YouVersion Logo
Search Icon

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynSample

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAY 1 OF 40

'n PLEK

“Dis wat ek wil hê jy moet doen: Vind 'n stil, afgesonderde plek, sodat jy nie in die versoeking sal kom om toneel te speel voor God nie. Wees net daar, so eenvoudig en eerlik as moontlik.  Die fokus sal van jou na God toe skuif en jy sal sy genade begin aanvoel.” – Matteus 6:6

Gaan sit in jou sel en jou sel sal jou alles leer. – Abba Moses

Die sel waarna daar verwys word is die blyplek waar die woestynvaders gewoon het; ’n klein grotagtige kamertjie wat in die woestyn teen ’n berghelling uitgegrawe was. Iemand het opdrag gekry om daarnatoe te gaan. Dit was ’n plek van afsondering. Dit strook ook met wat Jesus sê, dat ons ’n plek moet kry, ’n stil plek, ’n plek van afsondering. In die Russiese Bybel word “stil plek” in Matteus 6:6 vertaal met die woord "poustinia", wat ook “woestynbidplek” beteken. Ons word uitgenooi om Jesus die woestyn in te volg deur ’n keuse te maak om alleen te wees en onsself te onttrek van alle stimulasie, mense en besige plekke. Henri Nouwen het gesê dat dit onmoontlik is om die geestelike lewe te leef as ons nie in afsondering kan ingaan nie. Dit is dalk waar ons kan begin met ’n diep oortuiging dat dit belangrik is om ’n plek te kry en net daar te gaan sit. Dit is waar alles kan begin. 'n Mens kan dalk wonder wat ’n fisieke plek so besonders maak. Dit is natuurlik ’n uiterlike handeling, ’n herrangskikking van jou postuur en jou omgewing, wat dan ’n groot innerlike beweging teweegbring.

So jy word nou uitgenooi om in hierdie 40-dae van die Vastyd ’n plek te kry waarnatoe jy elke dag kan gaan, en hierdie plek dalk te vul met simbole, geure of dit wat vir jou belangrik is en jou dadelik aan God kan herinner en na Hom toe kan neem. Ignatius het gesê dat ons eers ’n tree moet terugstaan van ons plek af, vir ’n oomblik daarna kyk en elke keer as ons soontoe gaan, net eers moet stilstaan en met God praat oor hierdie plek wat ons eenkant gesit het. Die plek is net vir jou en vir Hom.

WOESTYNGESEGDE

'n Monnik se sel is soos die vuuroond in Babilon, waar die drie jongmanne die Seun van God gevind het.  

En dit is soos die wolkkolom waar God met Moses gepraat het.

GEDAGTE VIR DIE DAG

In my sel sal ek alles leer.

VIR NADENKE

Dink vir ’n oomblik terug aan die plek waar jy vandag gaan sit het. Wat was jou belewenis van die plek, die stilte en om net daar te wees? Wat het jy vandag in jou sel van God beleef? Watter emosies, indien wel, het by jou opgekom? Dink daaroor en vra God om aan jou te openbaar wat hierdie emosies aan jou probeer kommunikeer.

Scripture

Day 2

About this Plan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More