YouVersion Logo
Search Icon

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynSample

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAY 31 OF 40

GEMEENSKAP

“Dit is belangrik om in vrede met mekaar te leef. Sorg dat waar jy gaan, vrede jou soos ’n skaduwee sal volg. Om in vrede met mekaar te leef is reg en mooi voor God." –  Jakobus 3:18 (DB)

“Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is.” – Efesiërs 4:29

Een van die oudstes het altyd gesê: "Aan die begin toe ons bymekaar gekom het, het ons oor iets gepraat wat goed was vir ons siele en ons het nader aan die hemel beweeg, maar nou kom ons bymekaar en kritiseer alles en trek mekaar in die afgrond af."

Hierdie ou woestynvader het bewus geraak van hoe die dinamika in sy gemeenskap se bymekaarkoms met verloop van tyd verskuif het. In die begin was dit opbouend en het dit hulle gestig, maar nou nie meer nie. Hulle bymekaarkoms het leweloos en giftig geword. Dit is ons almal se skuld, is dit nie? Kom ons doen iets daaromtrent. Dis nodig dat ons met 'n doel bymekaar kom en ’n diepe bewussyn kweek van wat besig is om met ons te gebeur, asook wat die effek van ons bymekaarkoms op mekaar het. Dit vra inspanning, dit vra moeite. Jakobus sê dit is soms baie harde werk, maar alles kan verander word. Ons kan mekaar stig, ons kan mekaar weer hoop gee, bemoedig, mekaar se geloof bou, ons kan liefde gee; dis alles van die grootste geskenke wat ons van mekaar nodig het. As ons op ’n lewegewende manier wil bymekaarkom moet ons opnuut bewus word van die manier waarop ons praat: “Praat net wat goed en opbouend is.” (Efesiërs 4:29)

GEDAGTE VIR DIE DAG

“... goed en opbouend.” (Efesiërs 4:29, DB)

VIR NADENKE

Dink terug aan die woorde wat jy vandag geuiter het. Was dit lewegewend en opbouend? Het jou woorde iemand afgebreek? Het iemand jou met woorde bemoedig? Hoe het dit gevoel? Het iemand jou met woorde afgebreek? Hoe het dit gevoel? Bring die woorde wat jy vandag gehoor en gepraat het in ’n stil oomblik na God toe. Praat met God oor jou woorde.

Day 30Day 32

About this Plan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More