YouVersion Logo
Search Icon

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynSample

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAY 35 OF 40

DOEN ALLES MET GEBED

“Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak.” – Spreuke 3:6

Moet niks sonder gebed doen nie, dan sal jy oor niks spyt wees nie. – Woestyngesegde

Ons doen dikwels baie dinge met groot beplanning, raadgewing en navorsing. Die raad van die woestyn is: doen alles met gebed. Wanneer ons besig raak met ’n taak, vergeet ons dikwels wat die belangrikste en noodsaaklikste saak is. Gebed help ons in baie opsigte; in die eerste plek om nie net op te tree sonder oorweging nie. Deur oorweging kom ons agter waaroor die projek regtig gaan, ek kom agter wat regtig in myself aangaan, hoekom ek doen wat ek doen. Gebed suiwer my daarom van my innerlike motiewe. Gebed bring vir my ’n nuwe bewussyn van God in dit waarmee ek nou besig is.

In die tweede plek was gebed vir die woestynvaders meer as net ’n ritueel wat buite die konteks van hul dagtake plaasgevind het. (Baie van die vaders en hul volgelinge het dag-in en dag-uit mandjies gevleg om op die mark te verkoop om sodoende hul brood te verdien.) Die woestynvaders het daarin geglo dat jy moet bid terwyl jy werk. Vir die woesynvaders het werk en gebed hand aan hand gegaan. Te midde van hul fisieke handearbeid het die vaders daarna gestreef om onophoudelik in gebed te bly, bv. Abba Lucius sê: “Terwyl ek werk, bid ek sonder ophou.” Op hierdie manier kon hulle ’n deurlopende bewussyn van God behou sonder om noodwendig in afsondering op hul knieë te wees. Hulle kon God ook intiem beleef net daar by die werksbank waar hulle hul dag se brood verdien het, in die sweet van hul aangesig.

Dit is natuurlik belangrik om voor ’n taak of projek, of enige werk wat jy aanpak, te bid, maar mens kan ook gedurende jou werk diep bewus wees van God wat voortdurend met jou is. Dit kan gedoen word deur ’n kort frase herhaaldelik in jou gedagtes te bid, om sodoende jou aandag op God te hou, of om met ’n sekere aandagtigheid tot God se teenwoordigheid te werk en hierdie aandagtigheid deur gebed as ’n gewoonte aan te kweek. Hoe sal dit wees om God eerste te raadpleeg en om hulp te vra elke keer voordat jy jou werk of projek aanpak? Hoe sal jou lewe wees as jy voortdurend in ’n atmosfeer van gebed leef?

'n Monnik se sel is soos die vuuroond van Babilon, waar die drie jongmanne die Seun van God gevind het. En dit is soos die wolkkolom waar God met Moses gepraat het - Woestyngesegde

GEDAGTE VIR DIE DAG

Gebed bring vir my ’n nuwe bewussyn van God in dit waarmee ek nou besig is.

VIR NADENKE

Is jy tans betrokke by ’n projek of werk waarin jy jouself so verdiep het dat jy onbewus geword het van God se betrokkenheid daarin? Praat met God hieroor en wy jou werk weer opnuut aan Hom. Het jy God vandag deur jou werk beleef? Het God vandag iets van Homself deur jou werk aan jou geopenbaar? Was daar iets omtrent jouself deur jou werk aan jou bekendgemaak? Neem ’n paar oomblikke en vra die Here om jou werk vanuit sy perspektief te kan sien en wees waaksaam om redes te sien waarom jy vir jou werk dankbaar kan wees.

Scripture

Day 34Day 36

About this Plan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More