YouVersion Logo
Search Icon

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynSample

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAY 39 OF 40

’N GEESTELIKE BEGELEIER

“Gaan met die wyse om, dan word jy wys . . .” – Spreuke 13:20

“Hy het twaalf aangestel om by Hom te bly . . .” – Markus 3:14

“Gaan woon naby iemand wat God vrees en dan sal hy jou ook leer om God te vrees.” – Abba Paesius

Ons gebruik dikwels die gesegde: “woorde wek, voorbeelde trek”. Dit is natuurlik waar van baie dinge in die lewe maar veral op die geestelike reis. Om iets te “vang” of te snap moet ons eers iemand vind wat reeds kan doen wat ons ook graag wil doen, en dan saam met hulle wees. Markus sê vir ons dat Jesus sy dissipels geroep het om eerstens saam met Hom te wees: “Hy het twaalf aangestel om by Hom te bly. . .” (Markus 3:14) Daar is iets besonders wat met jou gebeur wanneer jy vir lang tydperke in die teenwoordigheid bly van iemand wat Christus intiem ken en volg. Paulus het so sterk hierin geglo dat hy die gemeente in Korinte aangemoedig het om hom te volg net soos hy Christus volg (1 Korintiërs 11:1). Verder beloof hy die gemeente in Filippi dat as hulle alles wat hulle by hom gesien, gehoor en by hom geleer het doen, dan sal die God van vrede met hulle wees. (Filippense 4:9) Alhoewel die woestynvaders grotendeels ’n kluisenaarslewe gelei het, was hulle nie in totale afsondering van mense nie. Groepe nuwelinge (groentjies) het om verskeie vaders vergader en het dikwels vir hulself ’n woning naby ’n sekere vader in die woestyn gemaak, en soms selfs in dieselfde sel as die vader gewoon, sodat hulle onder sy toesig kon lewe, raad kon ontvang vir hulle geestelike reis en van die vader se voorbeeld kon leer.

’n Geestelike begeleier is nie net iemand wat oor ’n sekere vaardigheid beskik nie. Dit is iemand wat ’n spesifieke ingesteldheid, houding, sensitiwiteit, passie en meegevoel het om goed te kan sien, waar te neem en agter te kom wat ander nie kan nie. Wat ’n geskenk en gawe is dit nie om ’n geestelike vader te hê, ’n mentor, ’n begeleier, ’n vriend saam met wie jy die Here kan dien en kan volg; iemand wat vir jou die wysheid kan gee wat jy op jou reis nodig het!

GEDAGTE VIR DIE DAG

“... bly onderdanig aan die opdrag van 'n geestelike vader.” – Abba Josef

VIR NADENKE

Is daar iemand wat reeds geestelike inspraak in jou lewe het; iemand by wie jy kan leer?

Is daar iemand wat jy dalk moet nader om as jou geestelike begeleier op te tree?

Vra die Here om iemand vir jou te wys wat jy kan nader.

Day 38Day 40

About this Plan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More