YouVersion Logo
Search Icon

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynSample

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAY 37 OF 40

GOD IN DIE NATUUR

“Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” – Psalms 19:2

'n Sekere filosoof het vir Abba Antonie die volgende gevra: "Vader, hoe kan jy so gelukkig wees as jy ontneem is van die vertroosting van boeke? Antonie antwoord toe: " My boek, meneer filosoof, is die natuur van alle skeppinge en wanneer ek ook al God se woorde wil lees, is die boek voor my."

Jare later het St Isak van Assirië gesê: “Wat is 'n medelydende hart? Dit is 'n hart wat aan die brand is vir die hele skepping, vir die mensdom, vir die voëls, vir die diere ... en vir alles wat bestaan.” God is meer as alles. God kan beleef en ervaar word in die skepping, in ander mense en deur gebeure. Richard Rohr sê “God kom na ons toe, vermom as ons lewe,” wat beteken dat God Homself aan ons kan openbaar selfs deur ons eie lewe, deur die gebeure van ons lewe en deur die misterie van ons verlede. Dink goed daaroor na – jou hele verlede, alles wat met jou gebeur het, het jou gebring tot waar jy hierdie oomblik is, God se hand is in alles. Die natuur is al beskryf is as ”die Eerste Bybel”. Wendell Berry sê: “As jy wil sien waar jy is, moet jy uit jou ruimteskip klim, uit jou motor klim, uit jou huis gaan en op die aarde loop.”

Vir Vader Antonie het God nie net na hom toe gekom deur die heilige Skrifte nie, maar ook deur die skepping. Hy het natuurlik aan die woorde van God in die Bybel gedink, maar dit het hom na ’n ander realiteit toe geneem: die Woord wat in die natuur is, God wat in die natuur is, wat na hom toe kom. In die natuur het hy die skoonheid en teenwoordigheid van God gevoel.

Die hele skepping is vol van sy heerlikheid. In die skepping kan ons voel, sien en ruik en iets ontdek van die groot Skepper. God is nie net iets intellektueel wat ons moet verstaan of ’n insig wat ons moet kry nie. Sy woord is nie net iets wat ons moet verstaan nie, maar ons kan dit ervaar, ontdek en in ons binneste aanvoel. Ek probeer nie net alles in die natuur verstaan waarmee ek te doen kry nie. Ek neem dit in, erken dit, bewonder dit, en dan kom ek iets agter van wie God is.

GEDAGTE VIR DIE DAG

My boek is die natuur en alle geskape dinge.  – Abba Antonie

VIR NADENKE

Neem tyd om jou dag in jou gedagtes terug te speel, vandat jy vanoggend opgestaan het. Dink terug aan alles wat jy in die natuur beleef het. Wat het jy gesien, gehoor, geruik of gevoel? Het God vandag deur die skepping na jou toe gekom?

Neem ’n oomblik om van jou diepe dankbaarheid vir die skepping bewus te word en bring jou dankbaarheid voor God. Vra die Here om jou môre opnuut bewus te maak van sy grootheid wat in sy skepping geopenbaar is.

Scripture

Day 36Day 38

About this Plan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More