Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynSample
WIE IS EK?
“Gaan kyk ’n slag goed na julle eie lewe. Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges te vergelyk. Op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee. ” – Galasiërs 6:4–5 (DB)
“... gaan na die stilste vertrek in die huis ... sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid.” – Matteus 6:6 (NLV)
Abba Poemen het aan Abba Josef gesê: “Vertel vir my hoe ek 'n monnik kan word.”
Hy het gesê: “As jy hier op aarde en in die hiernamaals rus wil vind, moet jy in alle omstandighede vra: 'Wie is ek?' en niemand oordeel nie.”
Abba Josef sê dat as ons vrede wil vind, nou en vir altyd, ons die antwoord tot die vraag: “Wie is ek eintlik?” moet kry. Ons identiteit bestaan uit baie “lae”, wie ons dink ons is: ons kan dink ons is dit wat ons doen, dit wat ons het, of wat ander mense van ons dink. Ons is nie eens wie onsself dink ons is nie. Ons dink ons ken onsself, omdat ons ons gawes, sterkpunte en persoonlikheid ken. Om dit van jouself te weet mag dalk vir jou iets van jou gedrag of motivering, of van jou voorkeure openbaar, maar dit is nie jou kern nie. Jy is méér as ’n introvert of ’n ekstrovert. Solank as wat jy jou identiteit hierin probeer vind is jy broos en kan jy jouself maklik verloor. Volgens die apokriewe evangelie van Thomas het Jesus gesê: “Iemand wat alles weet maar homself nie ken nie, weet niks.” Wat belangrik is, is om self uit te vind wie jy regtig is.
Is ons nie dalk wie God sê ons is nie? Jesus het die stem gehoor wat vir Hom gesê het: “Jy is my geliefde Seun.” (Matteus 3:17) Daardie selfde stem praat met ons diep in ons harte en sê dat ons sy kinders is: “Die Gees oortuig ons diep in ons binneste dat ons regtig God se kinders is.” (Romeine 8:16, DB) Jy is God se kind en kom uit Hom uit – dit is wie jy is!
GEDAGTE VIR DIE DAG
“Die Gees oortuig ons diep in ons binneste dat ons regtig God se kinders is. ” (Romeine 8:16, DB)
VIR NADENKE
Neem ’n paar oomblikke en dink oor jou dag. Was daar oomblikke wat jy nie geliefd gevoel het nie? Het jy jouself dalk met iemand vergelyk en gevoel dat jy tekortskiet? Is jy werklik dit wat jy doen? Wat was jou hoogtepunt van die dag? Het dit iets te doen met iets wat iemand gesê of gedoen het? Wat was jou laagtepunt van die dag? Het dit te doen met iemand wat jou met woorde afgetakel het? Praat met God hieroor, vra Hom om vir jou te wys wie jy in sy oë is.
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.
More