Logo de YouVersion
Ícono Búsqueda

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynMuestra

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DÍA 18 DE 40

RUS

“Wees stil en weet Ek is God.” – Psalms 46:11 (DB)

“Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek. Kom luister na wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê. Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef. Dis nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees.” – Matteus 11:28–30 (DB)

Jesus nooi ons uit om by Hom in stilte te kom rus, weg van ons besige lewe: “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik.” (Matteus 11:28–30, NLV). Die woorde wat aan Abba Arsenius gegee was, “ontvlug, wees stil, bid gedurig”, is ook van toepassing op dié van ons wat vandag wil leer hoe om woestyngeestelikheid te beoefen – as ons gevlug het, padgegee het, eenkant toe gekom het en ons onsself afgesonder het, is ons besig met woestyngeestelikheid. Die doel van woestyngeestelikheid is om innerlike rus te ervaar. Dit is die eerste stap. Die woord wat ons as “bid gedurig” vertaal, is “hesychia”. Dit kan ook uit die Grieks vertaal word as “kom tot rus, word stil, ervaar innerlike stilte.” Die woestynvaders vertel ons dat hierdie innerlike rus verkry word deur voortdurende gebed.

Die tweede stap is om innerlike stilte te bewerkstellig. In Psalm 131:2 sê Dawid: “... ek het kalmte en rus gekry, soos ’n kindjie by sy moeder rus.” Innerlike stilte is iets wat ons moet leer. Die manier van die woestyn om innerlike stilte en rus te ervaar, was dikwels deur ’n kort gebed te doen.’n Spesiale tipe gebed was bekend onder die geestelikes van die woestyn; iets wat ons vandag as ’n "one liner" sal beskryf. So ’n kort gebed word herhaaldelik gebid om die gedagtes stil te maak en dit help jou om jou innerlike lewe — gemoed, gedagtes en hele wese — tot God te rig. Die bekendste gebed van hierdie soort is die Jesusgebed: “Here Jesus Christus, Seun van God, wees my genadig.” Francis van Assisi het sý dissipels aangemoedig om die volgende gebed te gebruik: “My God en my alles.” Herhaling van hierdie kort gebede lei na die innerlike rus en innerlike stilte wat ons daagliks met ons in die dag kan saamvat.

GEDAGTE VIR DIE DAG

Kom rus bietjie by Hom. Bid voortdurend en ervaar die rus wat Hy jou wil gee.

“Ontvlug, wees stil, bid gedurig, want dit is hoe jy sonder sonde kan leef.”

– Woorde aan Arsenius

VIR NADENKE

Is jy moeg of oorwerk? Hoe sal dit wees om na die besige dag net vir ’n paar oomblikke by Hom te kom rus, te kom asemskep, te herlaai en jou lewe terug te kry. Vra God om jou te help om vanuit jou diep rus met Hom die dag van môre aan te pak . Vra God vir ’n kort gebed wat jy môre voortdurend kan bid; ’n herhalingsgebed wat jou in Hom kan anker en jou gedagtes kan stilmaak.

Día 17Día 19

Acerca de este Plan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More