Logo de YouVersion
Ícono Búsqueda

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynMuestra

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DÍA 40 DE 40

’N EWIGE TUISTE

“Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige ...” – Psalm 91:1

“... ek sal naby U lewe tot ek die dag doodgaan.” – Psalms 23:6 (DB)

Waar is Abba Antonie? Hy is op die plek waar God is. Daar sal Antonie altyd wees. – Woestyngesegde

Vader Antonie het vir 20 jaar in absolute afsondering en eensaamheid in die woestyn gebly voordat hy uitgekom het om met sy bediening te begin. Hy is seker een van die bekendste woestynvaders en daar word na hom verwys as die “vader van monnike” of selfs as die “vader van al die woestynvaders”. Die woestyngesegdes vind hul oorsprong in Vader Antonie en die woestyntradisie wat aan hom gekoppel is. Daar word gesê dat konings, prinse en mense van regoor die wêreld na hom toe gekom het om by hom raad oor hul lewens te kry. Aan die einde van sy lewe het hy weer onttrek en vir die laaste paar jaar in eensaamheid en in afsondering met God deurgebring, tot sy dood op die ouderdom van 106. Daar word gesê dat hy totaal geabsorbeer was met en verdiep was in direkte kommunikasie met God.

So word hierdie ou storie vertel van iemand wat gekom het om te hoor waar Vader Antonie is en daar vir hom gesê is: "Hy is op die plek waar God is. Daar sal Antonie altyd wees." Miskien verteenwoordig Vader Antonie vir ons iets van die doel van ons lewens. Die doel van ons lewe is nie mense nie, die doel van ons lewe is God. Dit is net in Hom waar ons die rus, die lewe en die vrede sal vind waarna ons smag en waarvoor ons gemaak is. Dit is daarom dat ons vanuit stilte in ’n aktiewe lewe kan kom, en dis waarheen ons terugkeer. Is dit nie ook die manier waarop ons hierdie lewe ingekom het en uiteindelik weer hoe ons die laaste dae hier gaan afsluit nie?

"U, o God, het ons vir Uself gemaak, en ons harte sal nie rus vind voordat ons nie in U rus nie."– St. Augustinus

GEDAGTE VIR DIE DAG

Ek is op die plek waar God is. Daar sal ek altyd wees.

VIR NADENKE

Dink vir ’n oomblik terug aan die plek waar jy gedurende hierdie 40 dae gaan sit het. Wat was jou belewenis van die plek, die stilte, en om net daar te wéés? Wat het jy van God beleef daar in jou sel? Watter gevoel of emosie het die meeste by jou opgekom? Besin daaroor en vra God om aan jou te openbaar wat hierdie emosies aan jou probeer kommunikeer.

Día 39

Acerca de este Plan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More