Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynMuestra
UNIEKHEID
"Natuurlik het jy die reg om te glo soos jy glo. Maar onthou, dit is in die eerste plek ’n saak tussen God en jou. Romeine 14:22 (DB)
Ab Markus het eenkeer aan Ab Arsenius gesê: "Dit is goed om niks in jou sel te hê wat jou plesier verskaf nie, né? Byvoorbeeld, eens op 'n tyd het ek 'n broeder geken wat 'n klein wilde blommetjie gehad het wat in sy sel gegroei het, en hy het dit met wortels en al uitgetrek." Ab Arsenius het geantwoord: "Wel, dis reg so. Elkeen moet optree volgens sy eie geloofsoortuiging. En as jy nie sonder daardie blom kan lewe nie, moet jy dit weer plant."
Die woestynvaders waarsku teen die gevaar om almal oor dieselfde kam te skeer. Ons is dikwels onbewus van die bril waardeur ons na die lewe kyk; byvoorbeeld as iets vir iemand anders nie uitwerk nie dink ons maklik dat ons presies weet wat die rede daarvoor is. Ons praat so gou uit ons eie ervaring en besef nie dat ons besig is om deur ons bril na 'n ander se lewe te kyk nie. Deur vir iemand te sê: “Ek weet presies wat jy moet doen,” kan amper wees soos om te sê: “Sit my bril op, dit werk al jare lank baie goed vir my.” Ons is nie een dieselfde nie, elkeen is uniek. Die behoefte van ons siele is ook nie dieselfde nie – dit wat vir my werk, werk dalk nie vir jou nie. Paulus sê: “Bou aan jou eie verhouding met God, moet dit nie in ander se kele afdruk nie.” (Romeine 14:22) Ons gebruik dikwels ons eie geestelike dissiplines as ’n maatstaf waarmee ons die geestelikheid van ander beoordeel. Daarom die vermaning deur die woestynvaders om mekaar nie te oordeel nie. Die uniekheid van elke mens moet gerespekteer word. Iets hiervan word ook opgemerk in die raad van Ab Nisteros: “Alle goeie werke is nie eenders nie. Die Bybel sê dat Abraham gasvry was en dat God met hom was. Elia was lief daarvoor om alleen te bid, en God was met hom. Dawid was nederig, en God was met hom. Wat jou siel ook al begeer, volgens die wil van God, doen dit en jy sal jou hart bewaar." Elkeen van ons het dus ’n unieke “pad” waarvolgens ons met God verbind. Ons kan nie verwag dat ’n ander persoon ons “pad” moet volg nie en ons mag hulle ook nie oordeel as dit anders as ons s’n is nie. Hoe nodig het ons nie om uit te vind wat ons siel se behoefte regtig is nie, om te onderskei wat uniek aan ons is en wat algemeen onder ons almal is!
“Verskillende mense het verskillende dissiplines nodig om hulle oplettend te hou; die ongeluk is dat die een verhewe bo die ander gestel word of dat dit op mense afgedwing word ...“ - Rowan Williams
GEDAGTE VIR DIE DAG
My geestelike behoeftes is uniek. Ek het my eie “pad".
VIR NADENKE
Dink vir ’n oomblik oor jou eie uniekheid en dank God vir hoe uniek Hy jou gemaak het. Is daar enigiemand wat jy ken wat radikaal ’n ander aanslag as jy het wanneer dit by die beoefening van die geestelike dissiplines kom? Is dit vir jou moeilik om hierdie persoon se aanslag te aanvaar as hul eie en outentieke “pad” om met God te verbind? Laat dit vaar en vra God om jou te help om andere se “paaie” te aanvaar en die uniekheid van andere te vier.
Escrituras
Acerca de este Plan
Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.
More