Logo de YouVersion
Ícono Búsqueda

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynMuestra

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DÍA 38 DE 40

STABILITEIT

“…  vir Jesus in die tempel opgespoor. Hy het daar tussen die skrifkenners gesit. Hy het aandagtig na hulle geluister en allerhande vrae aan hulle gevra.” – Lukas 2:46 (DB)

Wat moet 'n mens doen om God tevrede te stel? Wees altyd bewus van God se teenwoordigheid. Gehoorsaam altyd God se Woord. En waar jy jouself ook al bevind, moenie vinnig padgee nie. – Abba Antonie

“As 'n beproewing oor jou pad kom daar waar jy woon, moenie daarvandaan weggaan wanneer die beproewing begin nie. Waar jy ook al gaan sal dieselfde beproewing jou daar inwag. Bly dus totdat die beproewing verby is, dan sal jy niemand aanstoot gee as jy besluit om weg te gaan nie, en jy sal ander nie ontstel wat in dieselfde buurt woon nie.” – Woestyngesegde

As die lewe druk wil ons baie dinge doen om weg te kom. Ons neem soms drastiese stappe en ons is dikwels bereid om enigiets te doen om weg te vlug. Ek weet van mense wat hulle naam verander het, van geloof verander het, van werk verander het, van blyplek verander het, en dit alles net omdat hulle nie meer op dieselfde trant kon voortgaan nie. Hulle wou wegkom van die plek waar hulle is, hulle wou ontvlug van hulle omstandighede.

Die raad van Vader Antonie is: Moenie maklik verskuif van die plek waar jy jouself bevind nie. Ons dink dikwels dat dit makliker is om uit ’n verhouding, ’n werk, ’n omgewing of ’n projek te kom, omdat dit ongemaklik geraak het. Ons verkies eerder om nie te wag nie, nie langer die ongerief te verduur nie, om onmiddellik vervulling en genot te ontvang. Ja, dit werk soms! Vir ’n oomblik ervaar ons groot verligting, maar daarna volg die groot ontnugtering dat niks regtig verander het nie. Die wysheid van die woestyn is om nie uit ’n verhouding, werk, omgewing, projek en so meer te gaan nie, maar om eerder te bly, om deur die moeilike tye te gaan en eerder geduldig te wag.

Die probleem met wegvlug is dat waar ek ook al gaan, daar is ek – “Waar jy ook al gaan sal dieselfde beproewing jou daar inwag.” Om te vlug is nie die antwoord nie. Die omstandighede waarin ek nou is, is presies wat ek nodig het om my lewe te kan vind en te kan verander. Paulus sê: “Moenie wens dat jy op 'n ander plek was of by iemand anders nie. Waar jy nou is, is God se plek vir jou. Leef gehoorsaam, wees lief en glo net jy is op die regte plek. God ... bepaal jou lewe.” (1 Korintiërs 7:17, The Message).

GEDAGTE VIR DIE DAG

Ek moet bly waar ek is terwyl ek deur my krisis gaan.

VIR NADENKE

Is daar iets in jou huidige omstandighede waarvoor jy dankbaar kan wees?

Het jy vandag gevoel dat jy van iemand of iets wil wegkom of ontsnap?

Is daar iemand wat jy tans moeilik vind om lief te hê, iemand van wie jy wil wegkom?

Praat met God hieroor. Vra Hom om jou sy perspektief te gee oor hierdie omstandighede of mens(e). Bly in die ongerief. Vra God vir ’n dieper begrip van sy werk in jou, te midde van hierdie omstandighede en vir die genade om daardeur te gaan.

Escrituras

Día 37Día 39

Acerca de este Plan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More