Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynMuestra
ONTHOUDING EN PLESIER
“Wanneer iemand trou, is hulle nie suinig met die kos en drankies nie. Hulle vier fees. Later trek jy maar jou maag in, maar nie nou nie. Niemand gooi koue water op 'n vreugdevuur nie. Dis nou tyd vir oorvloed."– Matteus 9:15 (The Message)
As jy 'n boog herhaalde kere buig, sal dit breek. So is dit ook met God se werk. As ons onsself oorlaai, sal ons uitbrand. Dit is geoorloof om van tyd tot tyd te rus.
– Abba Antonie
Ons lewe in ’n hedonistiese kultuur, wat beteken dat die soeke na plesier ons nommer een prioriteit is. Ons grootste uitdaging is om nie reaksionêr te wees en onsself te vergryp aan askese (onthouding) nie, maar om plesier eerder op ’n ander manier te hanteer. Thomas Merton sê: “Plesier is goed en het meer te doen met deug as met sonde.” Daarom is dit belangrik om die beginsel van matigheid voor oë te hou. Daar behoort harmonie en balans in die lewe te wees.
Ons kan nie na net een van die twee kante toe neig en nie, byvoorbeeld net askese of net plesier nie, ons moet albei insluit in ons lewens. Dit was opmerklik in die lewe van Jesus. Hy het die vermoë gehad om vir ’n nag lank op sy eie te gaan bid. Dit was so veeleisend dat sy dissipels dit moeilik gevind het om selfs vir ’n uur saam met Hom te waak. Net so kon Hy ook ’n feesmaal hou en dit so geniet dat Hy daarvan beskuldig word dat Hy ’n vraat en ’n wynsuiper is. Jesus was volledig in die hier-en-nou en kon daarom met albei kante, askese en plesier en nie net een van die twee leef nie. Hy het nie een van die twee nodig gehad nie en was nie daarvan afhanklik nie. Hy kon enigeen laat gaan. Hy was vry; in die hier-en-nou, gefokus en gebalanseerd.
GEDAGTE VIR DIE DAG
As jy 'n boog herhaalde kere buig, sal dit breek. – Abba Antonie
VIR NADENKE
Is daar iets wat jou vandag plesier verskaf het? Kon jy iets van God in daardie plesier ervaar? Vra God om jou te wys of daar areas in jou lewe is waar jy jouself onnodig van plesier onthou. Vra God om vir jou te wys of daar plesier is waaraan jy verknog, of waarvan jy afhanklik geraak het en dit moet laat vaar.
Escrituras
Acerca de este Plan
Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.
More