Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynMuestra
REALITEIT
As jy na God toe wil opvaar, moet jy eers na jou eie realiteit toe neerdaal. God is te werklik om op enige plek behalwe die realiteit gevind te word. – Thomas Merton
Ons wil dikwels nie die realiteit van ons eie bestaan, ons eie gevoelens, ons eie denke en dit wat met ons gebeur, erken nie. Ons kan selfs deur dit te ontken en net positief te bly, dit geloof noem. Maar om afstand te doen van realiteit, is die eerste stap tot neurose en dit maak ons uiteindelik siek en vals. Ons kan ’n gebrekkige kontak met realiteit hanteer. Baie van ons kies dikwels die illusie bo die realiteit. Dit is natuurlik waar die verdedigingsmeganismes van Freud vandaan kom: Deur te rasionaliseer skep ek verskonings om die werklike redes vir my verwronge realiteit weg te steek. Ontvlugting sal my uiteindelik vernietig. Die pad van die lewe sal ons ongelukkig deur ervarings neem wat onsself nooit sal kies nie – depressie, siekte, lyding, mislukking, misbruik, verwaarlosing, woede, twyfel, verwarring en uiteindelik die dood. Maar as ons poog om hierdie ervarings en die donker plekke waarheen dit ons neem, te vermy, sal ons noodsaaklike kontak met die belangrike dimensies van ons lewens verloor. Ons kan nie die een emosie van ons lewe afsny sonder om die toegang tot die res van ons emosies ook af te sny nie. Wanneer ons dit waag om hierdie demone van die donker plekke in die gesig te staar, kan ons met ’n nuwe intensiteit, ’n nuwe passie, ’n nuwe helderheid en ’n nuwe visie, die lewe aanpak. Ons kan die lewe ook baie meer interessant vind en met ’n nuwe roeping en betekenis voortgaan.
Om onsself op te offer, moet ons ook ons lewenservarings opoffer, want slegs dit is wie ons is. Wie ons is – nie wie ons wil wees nie – is die enigste offer wat ons kan gee. Ons gee dus nie net ons sterkpunte vir God nie, maar ook ons swakhede, nie net ons talente nie, maar ook ons gebrokenheid. Ons dubbele lewe, ons wellus, ons beheptheid met onsself, ons traagheid – alles word op die offeraltaar geplaas. – Richard Foster
GEDAGTE VIR DIE DAG
Aanvaar jou realiteit: wie jy is, wat jy voel en waar jy is.
VIR NADENKE
Vra die Here om nou saam met jou te wees terwyl jy terugdink oor jou dag. Is daar iets wat jy tans wil vermy of waarvan jy wil ontvlug? Vra die Here om sy lig in jou hart te skyn en onder sy genadige oë, jou eie realiteit saam met Hom in die gesig te staar. Is daar iets wat jou vervreemd van God laat voel? Gee dit vir die Here en praat met Hom daaroor.
Escrituras
Acerca de este Plan
Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.
More