Logo de YouVersion
Ícono Búsqueda

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynMuestra

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DÍA 15 DE 40

SELFONDERSOEK

“. . . elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus . . .” – 2 Korintiërs 10:5

“. . . laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” – Filippense 4:6

Hy moet waaksaam wees oor sy gedagtes. Hy moet bewus wees van die intensiteit, die tye wanneer dit minder word en hulle volg soos dit kom en gaan. Hy moet kennis neem van sy ingewikkelde gedagtes, hulle intervalle, die demone wat dit veroorsaak, in watter volgorde dit voorkom en die aard van hulle metgeselle. Laat hy dan vir Christus vra om die inligting te verduidelik wat hy waargeneem het. – Abba Evagrius

Hier is die raad van Evagrius weereens om ons gedagtes waar te neem. Hy moedig ons aan om kenners te word van dit wat ons dink en voel. Ons moet onsself goed ken, ons moet onsself afvra: "Wat is dit wat ons dink? Wat is dit wat ons voel? Wat wil dit vir ons sê? Hoe is dit om so te voel? Waarheen lei dit ons? Wat probeer dit vir ons wys? Watter verband is daar tussen my gedagtes en my gevoelens? Met watter beelde leef ek? Wat maak hierdie gevoelens in my los?" Om met my denke om te gaan en na te dink oor wat ek dink, lei my dikwels na die ontdekking van my hartseer en my pyn. Ek kom agter dat alles waarop ek reageer verband hou met die seerkry wat ek opgedoen het en dat ek dikwels dit waarmee ek sit, onderdruk en ontken. Dít is wat losgemaak word en oopgekrap word wanneer ek weer met ander mense in kontak kom. Skielik begin ek weer al hierdie negatiewe gedagtes en emosies ervaar. Evagrius gee ons ’n baie interessante stukkie raad: "Vra Christus om dit vir jou te verduidelik en jou daarmee te help." Dit beteken dat ons uitgenooi word om alles met Hom te deel. En om dan oop te wees om te sien watter insig na ons toe kom. Ons moenie net ons gedagtes waarneem nie, maar dit ook deel van ons gebed en ons verhouding met God maak. Op hierdie manier leer ek my eie realiteit ken.

GEDAGTE VIR DIE DAG

Hoe sal dit wees om vandag meer bewus te wees van wat ek dink?

VIR NADENKE

Neem ’n paar oomblikke om terug te dink aan jou gedagtes van vandag. Is daar ’n spesifieke gedagte wat herhaaldelik by jou opgekom het? Soos wat jy jou gedagtes van hierdie dag waarneem, sien jy ’n oorhoofse tema wat na vore kom? Hoe sal dit wees om hierdie gedagtes aan Christus op te dra?

Día 14Día 16

Acerca de este Plan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More