Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynMuestra
FOKUS
“Mense wat altyd dink aan die dinge wat húlle graag wil doen, is God se vyande.”– Romeine 8:7 (ABA)
Toe Moses probeer het om nader aan die brandende braambos te gaan, was hy verbied, totdat hy sy sandale uitgetrek het. As jy begeer om die Een te aanskou en mee te kommunikeer, wat ver bo natuurlike waarneming en konsepte is, moet jy jou van jouself en elke selfsugtige gedagte bevry. – Evagrius Ponticus
’n Groot besorgdheid van Evagrius was die feit dat ons sonder enige afleiding moet kan bid. Die doel van gebed is om een te word met God. Die antieke geestelike skrywers het na hierdie “een word” verwys as eenheid met God. Ons sal net daarin kan slaag om hierdie eenheid met God te vind as ons verby ons gedagtes kan beweeg en heeltemal van onsself kan vergeet. Die fokus van gebed is juis om ons na God te wend en nie na die self nie. Paulus skryf in Romeine 8:7 (ABA) “Mense wat altyd dink aan die dinge wat húlle graag wil doen, is God se vyande.” Evagrius gebruik die metafoor van skoene wat van ons voete afgehaal moet word. Hier is die skoene ’n simbool van ons gedagtes en die passies waarmee ons leef. Solank ons skoene aan ons voete het, kan ons nie na die brandende braambos kyk nie. Ons sal altyd verhinder word deur ons denke, emosies en begeertes. Die eerste stap is om te erken wat dit is waaraan ons dink, waarna ons verlang en wat ons voel. Deur dit te probeer beveg of te ontken, word dit net versterk en word dit net groter in ons.
Die volgende belangrike ding is om dit te ontleed: Waar kom dit vandaan? Wat is die omvang daarvan? Wat is die houvas daarvan in my lewe? Hoe rig dit my? Waar leef ek eintlik – is ek in my hart, of in my kop en gedagtes? Dit is wanneer ek telkens terugkeer na my fokus, God, dat ek bewus word van dit waarmee ek besig is en dit wat my vashou. Deur dit te herken en te erken kan ek dit uiteindelik laat gaan. Op dié manier kan ek my skoene uittrek en met kaal voete voor God gaan staan. Daar is niks meer tussen my en Hom nie. Ek staan nou voor die vuur van sy groot liefde.
Die gebed van die monnik is nie perfek nie, totdat hy homself nie meer herken of die feit dat hy bid nie. – Abba Anthonie
GEDAGTE VIR DIE DAG
Fokus op God. Keer jou gedagtes gedurig terug na God toe.
VIR NADENKE
Wat het vandag die meeste van jou gedagtes in beslag geneem? Was daar vandag oomblikke toe jy bewustelik jou aandag verskuif het van jouself na God toe? Hoe het dit gevoel?
Wat het jy van God beleef? Het jy vandag agtergekom wanneer jy op jouself ingestel was? Bid oor hoe jy môre ’n manier kan vind om jou fokus van jouself af te haal en jou fokus na God toe te verskuif.
Escrituras
Acerca de este Plan
Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.
More