Ruimte om asem te haal Voorbeeld

Breathing Room

DAG 2 VAN 5

Jy hoef nie godsdienstig te wees om van die Sabbat ('n dag van rus) te weet of om dit te onderhou nie. Ons almal geniet ‘n rustige naweeksdag, slaap dalk bietjie later, neem ‘n blaaskans van die gejaagdheid van werk. Maar as jy ‘n Sabbat net sien as ‘n stil Sondag, mis jy die beste deel—daardie deel wat jou uiteindelik ruimte om asem te haal sal gee.

Kom ons neem 'n tree terug na die storie uit Eksodus wat lei tot vandag se gedeelte, waar God die Sabbat instel. Die Israeliete was vir 400 jaar slawe in Egipte, waar hulle elke dag, heeldag, gewerk het. Dan word hulle bevry en vir die volgende 40 jaar trek die hele volk deur die woestyn. En dit is hier waar God aan hulle die bevel gee om ‘n Sabbatsdag te onderhou—om een dag per week af te vat.

God sê aan ‘n groep mense wat vir honderde jare die hele tyd gewerk het, en wat nou in die middel van die woestyn sukkel om genoeg kos vir duisende mense bymekaar te kry, dat hulle ‘n dag moet afvat. Dit moes heeltemal belaglik geklink het! As hulle die dag nie gewerk het nie, het hulle nie geëet nie.

God het egter 'n plan gehad. In Eksodus 31:13 verduidelik Hy dat die onderhouding van die Sabbat ‘n teken vir die Israeliete sal wees van “Ek is die Here”…sê God aan hulle (en aan ons). Ek wil aan julle bewys dat julle My kan vertrou. Ek weet julle is bang om honger te ly. Ek sal egter, week na week bewys, dat Ek betroubaar is.

Dalk ken jy die res van die verhaal. God het met manna en kwartels gereageer op hulle vrees om honger te ly. Hy het hulle getrou van hul daaglikse brood voorsien, selfs op die dag waarop Hy hulle gevra het om nie te werk nie, maar te rus.

God se bevel dat ons moet rus, is in der waarheid 'n uitnodiging om Hom te vertrou. Wanneer ons bang is dat ons ‘n vriend se gevoelens sal seermaak as ons sy uitnodiging weier, kan ons God vertrou om die vriendskap te beskerm. Wanneer ons bang is dat ons huis te klein is, ons motor te oud, ons klere te eenvoudig, kan ons God vertrou wat sê dat ons waarde nie in materiële dinge lê nie. Deur op God te vertrou eerder as om op ons tande te kners en verby ons grense te beur, is die manier om uiteindelik, permanent, ruimte te vind om asem te haal.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Breathing Room

Voel jy ooit dat jy niks geniet nie, omdat jy alles probeer doen? Jy maak jou pad deur die lewe met jou geliefdes terwyl jy verskeie take gelyktydig verrig...Jy is effektief. Maar jy is poot-uit. Al wat jy nodig het is ‘n bietjie ruimte om asem te haal. Met een verbasend eenvoudige uitnodiging bied God aan jou ‘n manier om jou oorweldigende pas te verruil vir een wat vir jou uiteindelik vrede sal bring. Hierdie plan wys jou hoe.

More

Ons wil graag vir North Point Ministries en Sandra Stanley bedank wat hierdie plan beskikbaar gestel het. Vir meer inligting, besoek gerus: http://breathingroom.org