My Allerbeste vir Sy HoogsteVoorbeeld

My Utmost For His Highest

DAG 29 VAN 30

Gehoorsaamheid Aan Die "Hemelse Visie"

As ons die "hemelse visie" wat God ons gegee het verloor, is ons alleen verantwoordelik—nie God nie. Ons verloor die visie as gevolg van ons eie gebrek aan geestelike groei. As ons nie ons oortuigings oor God op die probleme van die alledaagse lewe toepas nie, sal die visie wat God ons gegee het, nooit vervul word nie. Die enigste manier om gehoorsaam aan die "hemelse visie" te wees, is om ons uiterste vir Sy hoogste te gee—ons heel beste tot Sy eer. Dit kan slegs behaal word as ons vasbeslote is om God se visie voortdurend te onthou. Maar die vuurproef is hoe gehoorsaam ons aan die visie in die besonderhede van ons alledaagse lewe is—sestig sekondes uit elke minuut, en sestig minute uit elke uur, nie net tydens persoonlike gebed of openbare byeenkomstes nie.

"Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie . . . " (Habakuk 2:3). Ons kan nie die visie tot vervulling bring deur ons eie pogings nie, maar moet onder die besieling daarvan leef totdat dit self vervul word. Ons probeer so hard om prakties te wees, dat ons die visie vergeet. Aan die begin het ons die visie gesien, maar het nie daarvoor gewag nie. Ons het voortgejaag om ons praktiese werk te doen, en teen die tyd dat die visie vervul is, kon ons dit nie eens meer sien nie. Om te wag vir 'n visie wat "talm", is die ware toets van ons getrouheid aan God. Dit is met die risiko van ons eie siel se welsyn dat ons vasgevang word in praktiese besigbly werk, net om die vervulling van die visie te mis. Wees op die uitkyk vir God se storms. Die enigste manier waarop God sy heiliges vestig, is deur die warrelwind van Sy storms. Gaan jy 'n leë peul wees met geen saad daarin nie? Dit sal daarvan afhang of jy in die lig van die visie wat jy gesien het lewe, al dan nie. Laat God toe om jou in Sy storm te stuur, maar moenie gaan totdat Hy saamgaan nie. As jy jou eie plek kies om gevestig te word, sal jy jouself as 'n onproduktiewe, leë peul bewys. As jy egter toelaat dat God jou vestig, sal jy "baie vrug dra" (Joh. 15: 8).

Dit is noodsaaklik dat ons leef in die lig van God se visie vir ons en "in die lig wandel" (1 Joh. 1: 7). O Heer, ek sal in alle opsigte aan U erkenning gee. Hou my in harmonie met U sodat ander die genot en vreugde van God kan ontvang.

Dag 28Dag 30

Aangaande hierdie leesplan

My Utmost For His Highest

Vir meer as tagtig jaar is Oswald Chambers se "My Utmost for His Highest" een van die mees gelese boeke in die Christelike wêreld. Nou is ons verheug om hierdie spesiale uitgawe van dertig oordenkings uit "My Utmost for His Highest" vry te stel. Dis ontwerp om 'n nuwe geslag aan die tydlose waarhede uit die Bybel bekend te stel. Hierdie versameling bevat ook Oswald Chambers se persoonlike gebede.

More

We would like to thank Discovery House Publishers for providing this plan. For more information, please visit: www.utmost.org