My Allerbeste vir Sy HoogsteVoorbeeld
Die Bron Van Oorvloedige Vreugde
Hier het Paulus gepraat van die dinge wat moontlik 'n heilige van die liefde van God kan skei. Maar die merkwaardige ding is dat niks tussen die liefde van God en 'n gelowige kan kom nie. Die dinge wat Paulus in hierdie skrifgedeelte genoem het, kan en sal die noue verhouding van ons siel met God versteur en ons gewone lewe van Hom skei. Maar niks hiervan kan tussen die liefde van God en die siel van 'n heilige op 'n geestelike vlak kom nie. Die onderliggende grondslag van die Christelike geloof is die onverdiende, onbeperkte wonderwerk van God se liefde wat aan die Kruis van Golgota vertoon is; 'n liefde wat nie verdien word en nooit verdien kan wees nie. Paulus het gesê dat dit die rede is hoekom "ons in al hierdie dinge meer as oorwinnaars is". Ons is super-oorwinnaars met 'n vreugde gebore uit die ervaring van dieselfde dinge wat lyk asof hulle ons gaan oorweldig.
Groot golwe wat 'n gewone swemmer sal bangmaak, is geweldig opwindend vir die branderplankryer wat dit al ervaar het. Kom ons pas dit op ons eie omstandighede toe. Die dinge wat ons probeer voorkom en beveg—verdrukking, lyding en vervolging—is dieselfde dinge wat aan ons oorvloedige vreugde gee. "Ons is meer as oorwinnaars deur Hom", "in al hierdie dinge"; nie ten spyte daarvan nie, maar te midde daarvan. 'n Heilige ken nie die vreugde van die Here ten spyte van verdrukking nie, maar as gevolg daarvan. Paulus het gesê: "In al ons sorge is ek vol moed en oorstelp van blydskap." (2 Korintiërs 7: 4)
Die onverganklike glans, wat die gevolg van oorvloedige vreugde is, is nie op enigiets tydelik gebaseer nie, maar wel op God se liefde wat deur niks verander kan word nie. En die ervarings van die lewe, of dit alledaagse of skrikwekkende gebeure is, is magteloos om "ons van die liefde van God te skei wat in Christus Jesus, ons Here is" (Romeine 8:39).
Here, ek prys U vir die vreugde van my lewe hier—vir die liefde van vrou en kind, vir die studente, vir die gunste van die Heilige Gees. Wat 'n wonderlike vreugde en stralende seën is hierdie plek nie!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Vir meer as tagtig jaar is Oswald Chambers se "My Utmost for His Highest" een van die mees gelese boeke in die Christelike wêreld. Nou is ons verheug om hierdie spesiale uitgawe van dertig oordenkings uit "My Utmost for His Highest" vry te stel. Dis ontwerp om 'n nuwe geslag aan die tydlose waarhede uit die Bybel bekend te stel. Hierdie versameling bevat ook Oswald Chambers se persoonlike gebede.
More