Kom saam, Ontdek wysheid uit die Woord.Voorbeeld

EK TEL SKULPE OP
"Die Here is naby dié wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is" Ps. 34:19 NLV.
Jare gelede loop ek en my twee kinders langs die see en skulpies optel. Ek kom toe agter dat hulle al die skulpe wat heel is wat ek in die emmer sit, weer uitgooi en net die stukkende skulpies bymekaar maak. Ek was verbaas, maar hulle was gereed met ‘n antwoord: “Mamma, kyk hoe mooi is hierdie enetjie met al die verskillende kleure; Mamma kyk, hierdie ene lyk net soos ‘n blommetjie; kyk, hierdie enetjie lyk soos ‘n hartjie ...”
Toe ons by die huis kom, het hulle die skulpies gewas en drooggevryf. Vir elke skulpie was daar ‘n uitroep van verwondering. Sommige skulpies is aanmekaargeplak met gom om ‘n mannetjie of muis te vorm. Op die ou end het al die skulpies ‘n ereplekkie êrens op ‘n kas of tafel gekry.
Terwyl ek later na hul trotse uitstallings kyk, het ek besef dat net omdat ‘n skulpie stukkend is dit nie beteken dit is nie meer mooi, of het nie meer waarde nie.
Dis presies hoe ons Hemelse Vader na ons kyk!
Ja, jy dink soms die wêreld sien jou as hopeloos, omdat jy nie verder studeer het nie. Jy het al so baie seergekry en het soveel verkeerde keuses gemaak dat jy glo jy is ‘n nikswerd. Jy voel miskien asof die branders jou omgedop, fyngemaal en diep onder die sand gebêre het. Miskien is jy in ‘n rolstoel vasgekluister en voel niemand sien jou raak nie!
Vandag moet jy weet: Ons Hemelse Vader sien jou deur die bloed van Jesus Christus. Jy is skoongewas! Hy sien Hy jou potensiaal en kyk met deernis en opgewondenheid na jou.
Op die regte tyd sal Hy jou met trots optel, afwas, heelmaak en uitstal.
GEBED: My Hemelse Vader, baie dankie dat U my as waardevol sien, al is ek stukkend. Dankie dat U my hartseer raaksien en my troos. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Kom klim saam met my in my motor. Kom saam op my reis. Dis my gebed dat die Here vir jou hoop sal gee wanneer jy moeg en moedeloos is. Ook dat Hy vir jou vreugde sal gee wanneer jy gestroop en tam is. Mag God jou mooi help om sy lig daar voor in die pad te bly volg.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.sonjagoldberg.co.za