Kom saam, Ontdek wysheid uit die Woord.Voorbeeld

EK SIT IN DIE SON
"Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers" Mal. 4:2 AFR83.
Ek was ‘n jong mamma toe ‘n dokter my diagnoseer met ‘n rare beensiekte. Natuurlik was ek verskriklik ontsteld, en ons predikant en sy vrou het vir my kom bid. Terwyl ek op ons sitkamerbank in ‘n sonkolletjie sit, het ons Vader God in sy groot genade deur daardie twee pragtige mense gewerk en vir my genesing gebring. Hulle het vir my hierdie vers in Maleagi gegee as God se belofte om aan vas te hou.
Van toe af troos God my altyd met sonstrale - die keer toe ek hoor my oudste seun moes weens ‘n hartdefek ‘n ingryping in een van die hoofare by sy hart kry; die keer toe my dogter ‘n geweldige trauma beleef het; die keer toe ek moedeloos en alleen was ná 3 maande in die hospitaal met ‘n baba wat wou aborteer; die keer toe my skoonma op haar plaas vermoor is; die keer toe ek by die egskeidingshof uitgestap het. Elke keer het God my só posisioneer dat sonstrale direk op my skyn. In so ‘n mate dat ek bewustelik gedink het: “Dis God wat my nou troos!”
Van die vroegste Christene af was hierdie Son van redding vir almal die heenwyse na Jesus Christus. Hy was die Een wat redding sou bring. Almal het na sy koms uitgesien, want by Hom is lig en hitte wat nooit verdof of uitgedoof raak nie. Ons hoef nie daarvoor te betaal of ‘n ekstra kragopwekker te koop nie. By Hom het ons genesing vir altyd!
As jy hierdie groot geskenk van Jesus Christus in jou lewe het, sal jy so opgewonde wees! Jy sal dit vir almal wil vertel. Jy kan eenvoudig nie anders nie!
GEBED: My Hemelse Vader, baie dankie dat U die son gebruik om my daaraan te herinner hoe blywend en kragtig U liefde vir my is. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Kom klim saam met my in my motor. Kom saam op my reis. Dis my gebed dat die Here vir jou hoop sal gee wanneer jy moeg en moedeloos is. Ook dat Hy vir jou vreugde sal gee wanneer jy gestroop en tam is. Mag God jou mooi help om sy lig daar voor in die pad te bly volg.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.sonjagoldberg.co.za