Kom saam, Ontdek wysheid uit die Woord.Voorbeeld

Kom saam, Ontdek wysheid uit die Woord.

DAG 1 VAN 7

DIE LEWE

"Wie dus in ‘n hegte verhouding met die Seun staan, kry die lewe by die Seun. Wie nie in so ‘n verhouding met die Seun van God staan nie, loop die lewe heeltemal mis – 1 Johannes 5:12 DB.

Gestel jy hou ‘n tou vas waarvan die eerste vyf sentimeter rooi geverf is. Die res van die tou loop tot in die oneindige en jy sien nie die eindpunt nie. Ons lewe op aarde is nes daardie rooi geverfde deel. Die orige deel verpersoonlik die res van ons bestaan.

Kies vandag hoe jy die res van jou lewe wil deurbring: in vreugde, vrede en oorwinning saam met Jesus in sy hemelse woning, of in ellende en pyn saam met die Satan in die verderf.

Moenie dink die klatergoud en genietinge van hierdie lewe is waaroor die lewe gaan nie. Dit alles gaan gou verby. As mens jonk is dink jy daar is nog baie tyd voordat jy aan doodgaan hoef te dink. Ek kyk vandag terug en dink: Ek was gister nog ‘n dogtertjie wat al my voortande op die bure se stoeptrappie uitgeval het. My kinders was gister nog babas en nou is hulle al drie groot met hul eie kinders. My hande was gister nog glad en jonk; vandag is my vel dun en my vingers krom.

Tyd is vlietend. Vir God is een dag soos ‘n duisend jaar en ‘n duisend jaar soos een dag (2 Petrus 3:8). As jy uitstel, verloor jy tyd waarin jy God se vrede en heerlikheid kan ervaar. Wees nòù gereed vir die lewe saam met Hom.

Hou op wonder. Maak jou keuse en kies vir Jesus sodat jy ook die ewige lewe saam met Hom sal hê!

GEBED: My Vader, ek wonder oor die lewe. Gee my die oortuiging om U bo alles te kies. Ek wil vir altyd saam met U in u hemelse paradys woon. Amen.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Kom saam, Ontdek wysheid uit die Woord.

Kom klim saam met my in my motor. Kom saam op my reis. Dis my gebed dat die Here vir jou hoop sal gee wanneer jy moeg en moedeloos is. Ook dat Hy vir jou vreugde sal gee wanneer jy gestroop en tam is. Mag God jou mooi help om sy lig daar voor in die pad te bly volg.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.sonjagoldberg.co.za