Voltydse VolhardingVoorbeeld
Dag 4: Die beste span
Hebreërs 10:36 NLV: “Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het."
Watter pragtige belofte! Ons lees hier die antwoord vir die toekoms: volhard tot die einde toe, hou aan en beweeg vorentoe. In alle eerlikheid: Daar is tye wanneer ‘n mens voel dat jy geen asem of energie meer oor het om enigsins te fokus nie, veral as jy nie weet wanneer die einde in sig is nie. Vir jou voel dit die einde is nou …
God doen altyd iets wat waardig aan Homself is. Dit is sy karakter. God kan nié lieg nie. As ons dít weet en voltyds in ons daaglikse denke vestig kan dit nie anders nie as om ons wil en krag te versterk nie. Gryp dié wete opsetlik vas, tree vir tree.
‘n Tydjie gelede het ek langs die hospitaalbed van my man gestaan. Die gebiep van elektroniese apparate en ‘n hele paar drippypies in sy arm het my oorweldig. Die personeel was 24/7 op hul pos om voltyds, vir solank as wat hy daar moes wees, na hom om te sien. Wanneer ons in ‘n geestelike siekbed lê, is die personeel aan diens daar vir jou: die Vader, Seun en Heilige Gees. Met só 'n span aan jou kant kán jy volhard!
Gebed: Here Jesus, met ‘n hart vol van u genade, durf ek vandag aan.
Haal diep asem, kyk selfs in die spieël en sê vir jouself: “Hier staan kilogramme vol genade”.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Jy sal in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) lees die woord "voltyds" beteken “vir die hele werktyd”. Ek het onmiddellik gedink aan ‘n dag by die kantoor waar ek heeltyd taakgerig moet fokus op dit wat van my verwag word soos my bestuurder dit bepaal en om my werk noukeurig en met uitmuntendheid te doen totdat al my take vir die dag voltooi is. In die Bybel lees ons allerlei teksverse raak wat baie goed kan hande vat met hierdie woord sowel as met volharding.
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: felicia-lategan.com