Voltydse VolhardingVoorbeeld
Dag 1: Die hele dag
Psalm 34:2- 3 NLV: “Ek sal te alle tye die HERE loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal net in die HERE roem. Die nederiges sal dit hoor en bly wees."
In hierdie teksvers kom die woord "te alle tye" en "altyd" voor. Dit beteken beslis voltyds, dus totdat jou taak verrig is. Watter taak moet voltooi word? Antwoord: die posbeskrywing wat God, ons bestuurder, van ons verwag. Voordat jy wonder of ons soos pionne rondgeskuif en, soos óns dit ken, bestuur moet word, die bedoeling is dat God ons vertrou met sy groot opdrag om volgelinge van Hom te wees en ook volgelinge te maak — voltyds.
Dit beteken ook om daagliks tyd saam met God deur te bring en die Woord te bestudeer sodat ons elke dag saam met Hom kan funksioneer. Sodoende word jy bemoedig en jou gees ontvang as't ware sy asem! Hoe wonderlik om te weet dat ons Vader ons vul met Homself om ook ander mense raak te leef.
So 'n tydjie gelede lees ek die volgende aanhaling raak: “Een koue wintersdag het ‘n slak teen ‘n appelboom begin uitklim. Terwyl hy teen die boom opseil, steek ‘n wurm sy kop by ‘n gaatjie in die bas uit en sê: ‘Jy mors jou tyd. Daar is nie ‘n enkele appel daarbo nie’. Die slak het geantwoord: ‘Teen die tyd wat ek daar kom, sal daar wees’" (Anoniem).
Deursetting is om ons oë heeltyd vorentoe te rig en te weet dat die eindpunt die moeite werd sal wees. Ek dink die wurm was moontlik een van die "nederiges" wat dit moes hoor sodat hy ook bly kan wees om deel van die appel te verkry!
Gebed: Vader, verfris my hele wese sodat ek te alle tye vorentoe sal leef met die taak wat U aan my toevertrou het — met lof op my lippe!
‘n Goeie idee is dat wanneer jy stilword om die Woord te bestudeer, sagte lofprysingsmusiek jou nóg meer sal stig vir die dag wat voorlê — vir “die hele werktyd".
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Jy sal in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) lees die woord "voltyds" beteken “vir die hele werktyd”. Ek het onmiddellik gedink aan ‘n dag by die kantoor waar ek heeltyd taakgerig moet fokus op dit wat van my verwag word soos my bestuurder dit bepaal en om my werk noukeurig en met uitmuntendheid te doen totdat al my take vir die dag voltooi is. In die Bybel lees ons allerlei teksverse raak wat baie goed kan hande vat met hierdie woord sowel as met volharding.
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: felicia-lategan.com