Voltydse VolhardingVoorbeeld
![Voltydse Volharding](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F54920%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Dag 2: Vorentoe
Josua 1:9 NLV: “My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die HERE jou God is saam met jou oral waar jy gaan.”
“Al loop ek stadig sal ek altyd vorentoe loop”. Hierdie woorde is gespreek deur Abraham Lincoln, 'n president van die VSA (1861 — 1865). Dit is ‘n kort sinnetjie maar propvol betekenis.
Josua moes na die afsterwe van Moses dapper en onbevrees as leier van die volk optree. Dit moes beslis baie uitdagend vir hom gevoel het, maar God het gesê Hy sal by hom wees oral waar hy gaan, dus voltyds, die hele tyd, sy lewe lank.
Hoeveel keer voel ons dat ons nie goed genoeg is nie en dat ons nie die een voet voor die ander kan plaas as gevolg van talle uitdagings in die lewe nie? Tog lees ons dat God ‘n opdrag gee: Jy móét dapper en sterk wees om dít wat Hy aan jou toevertrou het sáám met Hom te voltooi. Wel, ons lewens is vol van huiwerige oomblikke, moegheid asook om bang te wees — dis die menslike natuur.
Wanneer jy dink jy kan nie meer nie, herinner jouself aan vorige gebeure in jou lewe waar jy presies dieselfde gevoel het. Jy het nie tot hier gekom om net tot hier te kom nie! Wat sal ons eerder glo: die realiteite wat letterlik aan ons emosies en lywe kom karring óf om God se woorde diep te deponeer in ons siele?
As God sê Hy is saam met ons dan sluit dit tog jou hele lewenslyn in — voltyds!
Gebed: Here, soms vergeet ek dat U met my is. U Woord is vol beloftes van u teenwoordigheid. Ek wil graag hê dat U oral saam met my sal wees.
Wanneer jy hierdie eenvoudige woorde bid kan jy vir seker weet dat God jou hoor, selfs al "loop" jy stadig!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
![Voltydse Volharding](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F54920%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Jy sal in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) lees die woord "voltyds" beteken “vir die hele werktyd”. Ek het onmiddellik gedink aan ‘n dag by die kantoor waar ek heeltyd taakgerig moet fokus op dit wat van my verwag word soos my bestuurder dit bepaal en om my werk noukeurig en met uitmuntendheid te doen totdat al my take vir die dag voltooi is. In die Bybel lees ons allerlei teksverse raak wat baie goed kan hande vat met hierdie woord sowel as met volharding.
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: felicia-lategan.com