25 Dae tot KersfeesVoorbeeld

25 Dae tot Kersfees

DAG 4 VAN 25

Josef en Maria woon in Nasaret maar die bevel van die keiser forseer hulle om vir die sensus na Betlehem terug te keer. God het dit so bestem dat Miga se profesie vervul sou word. Miga 5:1-2 (NLV): "Betlehem-Efrata, jy is ’n klein dorpie in Juda. Tog sal daar uit jou vir My ’n regeerder kom wat oor Israel sal heers. Sy oorsprong is uit die verre verlede. Hy sal die mense van Israel uitlewer totdat die vrou wat verwag, geboorte gee. Eers dan sal sy volksgenote terugkeer na die land van Israel."

Die keiser se bevel was van toepassing op die hele Romeinse ryk. God het dit so bestem omdat twee oënskynlik onbelangrike mense, Josef en Maria, na Betlehem moes gaan sodat hierdie profesie vervul kon word. Die Messias, Jesus, gaan in Betlehem gebore word. Ons kan spekuleer oor die keiser se motief, maar ons kan met sekerheid sê dat hy nie God of nog minder die vervulling van profesie in gedagte gehad het toe hy die bevel uitgevaardig het nie. Tog gebruik God dit om 'n profesie te vervul. God gebruik mense, selfs mense wat Hom nie ken en dien nie, om sy doel en plan te vervul.

Josef en Maria het nie hieraan gedink nie, hulle het nog minder 'n besef van die profesie wat vervul gaan word. Hulle voel soos onbelangrike mense wat deur die politieke mag van die dag verplig word om 'n lang, gevaarlike en ongemaklike reis aan te pak. Ontmoedig en ongelukkig gaan hulle na Betlehem om hulle rol in God se verlossingsplan te vervul.

Eenvoudige Josef en Maria gehoorsaam die aardse keiser deur na Betlehem te gaan om die Koning van die heelal se groot verlossingsplan in vervulling te laat gaan! Aardse status en mag het hulle nie, maar die aandag van die hemel is op hulle twee. God gebruik aardse magte om omstandighede so op te stel dat sy groot plan – wat ons nou ken as die evangelie – vervul sal word.

Teëspoed en verdrukking in hierdie wêreld, soos politieke leiers wat in eie belang optree, kan ons soos slagoffers laat voel. Maar God! God kan selfs dit – ander se magsmisbruik, ons magteloosheid en teëspoed – gebruik om goed te doen. Deur Josef en Maria het verlossing na die mensdom gekom.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

25 Dae tot Kersfees

Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.

More

Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/