Wanneer die Heilige Gees werkVoorbeeld

Wanneer die Heilige Gees werk

DAG 7 VAN 7

Lewende water

As water neerreën op die dorre aarde, kom daar lewe en vrug. As die waterstrome in die woestyn begin vloei, verander die barre, droë wêreld in ’n tuin vol vrugte en blomme. Die water bring nuwe lewe en blydskap vir mens en dier.

Jesus sluit aan by hierdie beeld van water wat nuwe lewe en vreugde bring as Hy oor die Heilige Gees praat. As ’n mens dors is en na die Here toe kom en jy drink van hierdie lewende water, word dit in jou binneste soos ’n fontein wat begin opborrel en oorloop na buite toe. Dit wys heen na die Heilige Gees wat in ’n mens se lewe inkom om jou geestelike dors te les en jou diepste geestelike behoeftes te vervul.

Hierdie water bring nuwe blydskap, vrede, reinheid, heiligheid en vul jou lewe met ’n nuwe liefde wat oorborrel na ander. As die Heilige Gees ’n mens se lewe vervul, verander jou woestynagtige lewe in ’n tuin.

Die Heilige Gees verander jou sodat die heerlikheid van God in jou sigbaar word. Jou eie lewe verander en jy begin ook om ander mense om jou te beïnvloed en te verander. Die barre woestyn begin op ’n wonderlike manier blom. Nuwe lewe breek deur; kaal, dooie takke kry nuwe blare en blomme. Esegiël 47 vertel dat waar hierdie water vloei, daar bome opskiet wat 12 maal ’n jaar vrugte dra en waarvan die blare genesing bring.

Die Heilige Gees bring nuwe lewe en genesing. Die Heilige Gees verander ’n dooie wêreld en bring herlewing.

Here Jesus, ek is dors. Vul my met u Heilige Gees en maak my ’n fontein wat oorloop na almal om my.

Amen

Hierdie oordenking is geneem uit die boek “Wanneer die Heilige Gees werk” deur Dirkie van der Spuy.

Besoek Dirkie van der Spuy Bediening vir meer inligting oor sy bediening en boeke.

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Wanneer die Heilige Gees werk

Vanaf die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag tot Jesus se wederkoms leef ons in die bedeling van die Heilige Gees waar God elke oomblik in en deur ons wil lewe. Het jy ‘n lewende verhouding met die Heilige Gees, ervaar jy sy werking, leiding, gawes en vrug? Hierdie leesplan wil jou help om die wonderlike, kragtige beheer van die Heilige Gees meer in jou lewe te ervaar.

More

Ons wil graag vir Dirkie van der Spuy Bediening bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://moreleta.org/