Wanneer die Heilige Gees werkVoorbeeld

Wanneer die Heilige Gees werk

DAG 4 VAN 7

Die Gees oortuig van sonde

Van nature is die mens maar blind vir sy eie foute en sonde. Ons sien ander se foute egter baie maklik raak.

Ons regverdig ons keuses of optredes as iemand ons sou aanspreek oor verkeerde dinge in ons lewe. Soms stamp ons ons koppe baie hard, maar weier dan steeds om te erken dat ons verkeerd was.

Die Heilige Gees het gekom om ons te oortuig van wat reg en wat verkeerd is. Hy wil vir ons wys wat sonde is. Die Heilige Gees wil ons gewete opskerp en ons sensitief maak vir God se wil in ons lewe.

Daar was ’n lang tyd in Paulus se lewe dat hy geskop het teen die prikkels en die stem van die Heilige Gees geïgnoreer het. Hy het homself wysgemaak dat hy God behaag as hy die Christendom vervolg. Eers nadat hy vir Christus op die Damaskuspad ontmoet het, en Ananias gebid het dat die skille van sy oë sou afval, het Paulus se geestelike oë begin oopgaan. Vroeër kon Paulus nie sy eie sonde raaksien nie. Nadat die Heilige Gees egter beheer oorgeneem het in sy lewe, het hy sy sonde raakgesien en dit bely. Hierna het Paulus in die teenoorgestelde rigting begin lewe. Hy was ’n getuie vir Christus wat mense gehelp het om Christene te word.

Die Heilige Gees wil ons lei op ’n pad van heiligmaking. God se lig moet al dieper in ons lewe inskyn en elke donker plek kom uitwys. Die Gees wil elke skerp kant van ’n mens se persoonlikheid kom uitwys en verander. Daarom moet ons oop en sensitief bly vir die leiding van die Heilige Gees en onmiddellik gehoorsaam as ons sy stem hoor.

Kom, o Heilige Gees, kom wys vir my waar daar sonde in my lewe is. Ek stel my oop dat U my kan oortuig van wat reg en verkeerd is.

Amen

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Wanneer die Heilige Gees werk

Vanaf die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag tot Jesus se wederkoms leef ons in die bedeling van die Heilige Gees waar God elke oomblik in en deur ons wil lewe. Het jy ‘n lewende verhouding met die Heilige Gees, ervaar jy sy werking, leiding, gawes en vrug? Hierdie leesplan wil jou help om die wonderlike, kragtige beheer van die Heilige Gees meer in jou lewe te ervaar.

More

Ons wil graag vir Dirkie van der Spuy Bediening bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://moreleta.org/