Wanneer die Heilige Gees werkVoorbeeld

Wanneer die Heilige Gees werk

DAG 5 VAN 7

Die Gees gee nuwe lewe

Jesus leer ons dat die Heilige Gees gekom het om nuwe lewe te bring. Mense wat hemel toe sal gaan, is mense wat ’n nuwe lewe ontvang het deur die Heilige Gees. Hierdie nuwe lewe is uit God en is vir ewig.

Jesus het vir Nikodemus gesê dat hy weergebore moet word as hy hemel toe wil gaan. Nikodemus was ’n baie godsdienstige mens en ’n lid van die Joodse Raad. Hy was iemand wat die Skrif bestudeer, geken en geleer het. Hy het nie ’n diens in die sinagoge gemis nie, en het al die wette van die Fariseërs stiptelik nagekom. Sy lewe was voorbeeldig en, in mense se oë, onbesproke. Almal sou dink dat iemand soos Nikodemus op pad hemel toe was.

Jesus waarsku hom egter dat as hy nie deur die Heilige Gees weergebore word nie, hy nooit in die hemel sal ingaan nie. En jy kan slegs in die hemel ingaan as jy ’n kind van God is. ’n Mens kan slegs ’n kind van God word as jy deur die Heilige Gees weergebore word.

Dit is waarom Jesus mense gewaarsku het dat hulle soos witgepleisterde grafte is. Hulle lyk van buite af baie godsdienstig en vroom. Tog is hulle eintlik grafte wat binnekant vol onreinheid en geestelike doodsheid is. Hierdie geestelike doodsheid kan slegs verander deur die werking van die Heilige Gees. As die Heilige Gees ’n mens se lewe kom oorneem, begin ’n nuwe lewe in jou. Ons kan onsself nie kinders van God maak nie, maar as die Heilige Gees ons wederbaar van binne, sal ons vir ewig lewe.

Ken jy hierdie nuwe lewe? Het die Heilige Gees al hierdie wonderwerk in jou lewe gedoen? Het jy jouself godsdienstig gemaak, of het die Heilige Gees jou nuwe lewe kom gee en ’n kind van God gemaak?

Heilige Gees, kom werk in my en gee vir my die nuwe lewe. Ek kan myself nie ’n kind van God maak nie. Kom verwek asseblief die nuwe, ewige lewe in my.

Amen

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Wanneer die Heilige Gees werk

Vanaf die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag tot Jesus se wederkoms leef ons in die bedeling van die Heilige Gees waar God elke oomblik in en deur ons wil lewe. Het jy ‘n lewende verhouding met die Heilige Gees, ervaar jy sy werking, leiding, gawes en vrug? Hierdie leesplan wil jou help om die wonderlike, kragtige beheer van die Heilige Gees meer in jou lewe te ervaar.

More

Ons wil graag vir Dirkie van der Spuy Bediening bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://moreleta.org/