Verstaan en Bid Deur Jou Geestelike WintersVoorbeeld

Verstaan en Bid Deur Jou Geestelike Winters

DAG 3 VAN 6

Winterbome

‘n Wingerdstok neem elke jaar toe in sy vermoë om meer druiwe te produseer. As gevolg van die toename in groeikrag, is daar egter ook elke jaar ‘n toename in die aantal lote wat uitgroei. Daarom moet die winter kom, sodat die lote wat nie vrugte dra nie weggesnoei kan word. Lote wat uitgroei en nie vrugte dra nie, neem energie en groeikrag op. Dit verhinder en beïnvloed die hoeveelheid vrugte wat die wingerdstok kan dra.

In die winter lyk bome swart en dood. Die winter se rusperiode is egter ‘n tyd van aanvulling en innerlike groei. In die winter herstel die boom of wingerdstok sodat dit in die nuwe seisoen weer vrugte kan dra —soms selfs meer vrugte as in die vorige seisoen.

Christen, verwelkom winter. Verwag die winter. Jy het die winter nodig. Moenie dat die winter jou onverhoeds betrap nie. Winter kom een keer per jaar vir elke boom. Moenie die winters van die lewe vrees nie. Moenie hulle weg wens nie. Hierdie winters laat jou toe om jouself te kan sien soos jy werklik is, die kortstondigheid van lewe sien, en om nuut te verstaan wat belangrik is en wat nie. Winter ontbloot die lote wat nie vrugte dra nie en die gebreekte takke. Dit moet weggesnoei word. Dit is in die winter wanneer ‘n mens goed kan sien wat weggesnoei moet word.

Ruim tyd in om te bid:

Laat God toe om alles wat nie bruikbaar is nie, alles wat nie vrugte dra nie, weg te snoei.

Moenie met God stry oor dinge wat Hy weet jou sal seermaak as jy dit nie neerlê en daarvan wegstap nie. Laat God toe om die snoeiskêr te gebruik soos wat Hy die beste vind.

Geestelike winters is dikwels tye van oorgang, tye waarin God ons in nuwe rigtings kan lei. Wees baie sensitief vir die stem van die Gees. Wanneer God besig is om ons te “skuif” na 'n nuwe posisie of in ‘n ander arbeidsveld wil gebruik, gaan dit ongelukkig dikwels gepaard met baie pyn, verwerping en onregverdige behandeling. Ons besef nie hoe gemaklik (verknog en afhanklik) ons in 'n spesifieke posisie kan raak nie. Om ontwortel te word sodat ons na 'n ander plek kan beweeg, is baie keer ‘n pynlike ervaring. Die pyn word meestal veroorsaak deur mense rondom ons. Moenie na die mense kyk wat die pyn veroorsaak het nie – hulle is God se instrumente en hulle is baie dikwels Christene. Seën hulle en gaan aan.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Verstaan en Bid Deur Jou Geestelike Winters

Daar kom vir almal van ons tye wat soos geestelike winters voel. Hierdie leesplan sal jou help om sin te maak van jou geestelike winters en te verstaan dat geestelike winters absoluut noodsaaklik is vir geestelike groei en vrugdra.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com