Beoefen die WegVoorbeeld

Practicing the Way

DAG 5 VAN 5

NEEM JOU KRUIS OP

Wil jy vir Jesus volg?

Nie almal wil dit doen nie.

Volgens die Evangelies was duisende mense tot Jesus aangetrokke, maar slegs 'n paar honderd het werklik sy leerlinge geword.

Baie mense was waarlik aangetrokke tot Jesus (hoe kon jy nie wees nie?), maar hulle was nie bereid om hulle tot 'n lewe van leerlingskap te verbind nie. Hulle het allerlei verskonings opgedis, soos byvoorbeeld: “... Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe” (Lukas 9:59). Gedurende die eerste eeu was dit die manier waarop daar gesê is: “Laat my toe om te wag totdat my ouers sterf sodat ek die familie-erfenis ontvang en finansieel onafhanklik kan wees; dan sal ek U begin volg.” Ander verskonings? “... Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet” (vers 61). Bedoelende, gee my bietjie meer tyd voordat ek my daartoe verbind.

Baie van ons doen dieselfde. Ons stel uit, ons wik en weeg, ons maak verskonings. Dit is amper soos om 'n dieet te volg of om fiks te raak, of selfs om 'n kas te begin uitsorteer — ons stel uit. “Ek sal dit later doen.” Van uitstel kom egter afstel.

Wat het Jesus daarop geantwoord? “... Laat die dooies hulle eie dooies begrawe ...” (vers 60).

Vir ons hedendaagse ore klink dit baie ongevoelig, maar dit was nie; dit was net reguit. Daarmee het Jesus eintlik gesê: “Jy kan dit doen, maar indien jy kies om daardie pad te stap, sal dit jou nie na die lewe lei nie, maar na die dood".

Jesus het nie gesmeek, gemanipuleer of geboelie nie. Dwang is nie 'n vrug van die Gees nie. Hy het niemand se arm probeer draai of mooi broodjies gebak nie. Hy het net 'n uitnodiging gerig. Wanneer iemand dan weier of verskonings uitdink ...

laat Hy hulle begaan.

Kan jy jou voorstel om nee te sê vir Jesus se uitnodiging?

Ek kan.

Indien jy lank genoeg leef, is dit onvermydelik dat jy 'n uitnodiging van die hand gaan wys en dit later berou. Ek het. Genadiglik kan ek aan slegs 'n paar geleenthede in my lewe dink waar ek 'n uitnodiging van die hand gewys het. Tot vandag toe berou ek egter my keuses wanneer ek aan hierdie verspeelde kanse dink.

Jy het 'n uitnodiging in jou hande om 'n leerling van Jesus te word.

Wat is jou antwoord?

Van watter uitnodigings in jou hart en lewe raak jy bewus wat Jesus aan jou rig? Is daar iets waaroor Jesus se Gees 'n roering in jou hart veroorsaak het? Het jy deurgedruk daarmee? Wat kan jy vandag doen om vir Jesus se uitnodigings ja te sê?

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Practicing the Way

Wie is jy besig om te word? Wanneer jy jouself in jou gedagtes voorstel as 'n 70-, 80-, of 100-jarige persoon — watter soort mens sien jy op die horison? Vul hierdie beeld jou met hoop? Of met verskrikking? John Mark Comer onderrig ons deur middel van hierdie oordenking sodat ons geestelik kan groei en daagliks meer en meer soos Jesus word.

More

Baie dankie aan John Mark Comer wat hierdie leesplan uit die onderriggrepe van "Practicing the Way" beskikbaar gestel het. Besoek https://practicingtheway.org/ vir meer inligting