Beoefen die WegVoorbeeld
'n LEWENSWYSE
Die oorspronklike benaming vir die gemeenskap van Jesus se volgelinge (of leerlinge soos ek na hulle verwys), was “die Weg” of “aanhangers van die Weg" (Handelinge 9:2; 19:23; 24:14 AFR20). Hierdie benaming skets 'n prentjie van 'n eenvoudige, dog revolusionêre begrip:
Die Weg van Jesus is meer as net teologie (godgeleerdheid) — of 'n stel idees wat ons met ons verstand glo. Dit is wel so, maar dit is ook méér.
Dit is ook meer as etiek (sedelike norme) — of 'n lys van moets en moenies wat ons gehoorsaam of ignoreer. Dit is dit, maar dit is steeds ook méér.
Dit is presies wat die naam sê — die Weg na die lewe.
Hierdie manier van leef — met Jesus persoonlik as die volmaakte voorbeeld — is verreweg meer as enige iets anders wat hierdie wêreld aan ons bied. Dit kan God se teenwoordigheid en krag aan jou openbaar op maniere waarvan die meeste mense net kan droom. Dit verwag egter van jou om 'n lewenspad te volg wat Jesus self vir jou beplan het.
Jesus het gesê: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad [weg] daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad [weg] daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (Matteus 7:13-14).
Die "breë" weg word deur die meerderheid kulture gevolg, en is so eenvoudig soos die gesegde: "Volg die skare en doen waarvoor jy ook al lus is." Miljarde mense volg hierdie lewensbeskouing, maar dit lei nie na die lewe nie; inteendeel, dit lei meestal na vernietiging.
Jesus se Weg is "smal" en dit beteken dat dit 'n baie spesifieke lewenswyse is. Indien jy dit volg, sal dit jou na lewe lei — hier op aarde, sowel as die ewigheid.
Jesus het hierdie lewenswyse onophoudelik aangebied aan enige iemand wat Hom wou volg. Hy het gesê: “... Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Johannes 10:10). Jesus verwys hier na die "ewige lewe" en dit beskryf beide die kwantiteit en kwaliteit van lewe.
Dit lyk asof dit gewoonlik net 'n klein minderheid mense is wat Jesus se uitnodiging aanneem. Jy kan egter een van die weinige gelukkiges wees — 'n leerling van Jesus.
Hierdie verbysterende aanbod vir 'n lewenswyse is tot almal se beskikking.
Watter veranderinge sou in jou lewe plaasvind indien jy oorweeg om Jesus se manier van lewe te volg? Watter gewoontes sal jy moet verander? Neem 'n oomblik om rustig te raak, asem te haal, en in pas te kom met jou hart se hunkering na Jesus en na 'n veranderde lewe. Laat daardie hunkering die bron van jou lewensverandering wees.
Aangaande hierdie leesplan
Wie is jy besig om te word? Wanneer jy jouself in jou gedagtes voorstel as 'n 70-, 80-, of 100-jarige persoon — watter soort mens sien jy op die horison? Vul hierdie beeld jou met hoop? Of met verskrikking? John Mark Comer onderrig ons deur middel van hierdie oordenking sodat ons geestelik kan groei en daagliks meer en meer soos Jesus word.
More