Beoefen die WegVoorbeeld
DOELWIT #2: WORD SOOS JESUS
Vir Jesus was leerlingskap daarop gemik om by Hom te wees met die doel om meer soos Hy te word. Ons sien dit in Jesus se verklaring: “'n Leerling is nie verhewe bo die leermeester, of 'n slaaf bo sy eienaar nie. Dit is voldoende vir die leerling om soos sy leermeester, en vir die slaaf om soos sy eienaar te word ..." (Matteus 10:24-25a AFR20). Jesus se leerlinge is diegene wat by sy opleidingsprogram aansluit; dié wat hulle lewens doelbewus op geestelike groei en volwassenheid rig.
(Nie-leerlinge van Jesus is diegene wie hul lewens doelbewus rondom alle ander dinge beplan.)
Die proses van groei en verandering word "geestelike vorming" genoem. Geestelike vorming is nie 'n Christelike aangeleentheid nie; dit is 'n menslike aangeleentheid.
Voortdurende verandering is eie aan die mens. Ongeag of ons gelowig is of nie, ons groei, ontwikkel, struikel en staan weer op. Dit is nie iets wat ons kan verhelp nie. Die aard van die menslike siel is dinamies en veranderlik — nie staties en onveranderlik nie. Die proses van verandering fassineer ons — daarom wys ons daardie onvleiende tienerfoto's by troues, en troufoto's by begrafnisse.
Die vraag is nie óf jy verander nie.
Die vraag is: "In wie of wat word jy verander?"
Geestelike vorming volgens Jesus se Weg is 'n proses wat die monnike lank reeds imitatio Christi, of “die navolging van Christus”, genoem het. Die Vader se doel vir ons is "... om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word ..." (Romeine 8:29 AFR20). Dit is verstommend dat ons dan mettertyd in ons diepste, ware "self" verander — dié "self" wat God reeds vóór die grondlegging van die wêreld vir ons in gedagte gehad het.
Die ironie van ons "wees getrou aan jouself"-kultuur is dat almal uiteindelik eenders lyk. Dit blyk dat sonde werklik 'n holruggeryde woord is. Ons keer terug na ons basiese dierlike instinkte vir selfbehoud en plesier — gierigheid, vraatsug, onsedelikheid, leuens, magspeletjies. Dit is dieselfde storie oor en oor, geslag na geslag.
Om waarlik uitsonderlik te wees, is om die Weg te beoefen. Niemand is meer uitsonderlik as 'n heilige nie.
Jy word mens; dit is onvermydelik.
Jy is in hierdie lewe op pad iewers heen.
Waarom kies jy nie om 'n persoon te word wat met Jesus se liefde deurdrenk is nie?
Waarom nie eerder soos Hy wees nie?
Watter eienskappe van Jesus wil jy die graagste vir jouself toe-eien? Raak 'n oomblik stil en bid dat Jesus se Gees hierdie eienskappe in jou binneste vaslê.
Aangaande hierdie leesplan
Wie is jy besig om te word? Wanneer jy jouself in jou gedagtes voorstel as 'n 70-, 80-, of 100-jarige persoon — watter soort mens sien jy op die horison? Vul hierdie beeld jou met hoop? Of met verskrikking? John Mark Comer onderrig ons deur middel van hierdie oordenking sodat ons geestelik kan groei en daagliks meer en meer soos Jesus word.
More