Beoefen die WegVoorbeeld
DOELWIT #1: SAAM MET JESUS
Dit is geen verrassing dat Jesus sy groep leerlinge op 'n eenvoudige wyse saamgestel het nie. Hy het vir hulle gesê: "Kom, volg my" — en hulle het langs Hom gestap en die Weg gevolg.
Jesus het bloot vir Andreas en sy vriend genooi om te kom kyk waar hy bly. “... Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan ... en hulle het die res van die dag by Hom gebly” (Johannes 1:39).
In Lukas 10:39 lees ons van 'n leerling genaamd Maria “... wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het.”
Volgens Markus 3:13 het Jesus sy dissipels "... nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom." Dit was moontlik 'n groep van 'n paar dosyn of dalk honderde volgelinge wat 'n geruime tyd met Jesus deurgebring het. Jesus het 'n groepie van 12 uit hierdie groot groep dissipels gekies om hulle spesiaal op te lei en hulle "... aangestel om by Hom te bly ...” (Markus 3:14).
Jesus se eerste — en heel belangrikste — doelwit vir sy leerlinge was: om by Hom te wees, om elke oomblik van die dag van sy teenwoordigheid bewus te wees en aandagtig na sy stem te luister. Die grondslag van jou hele lewe moet op 'n nabyheid met Jesus gevestig wees.
Om Jesus te volg bestaan nie uit drie stappe nie, maar daar is 'n volgorde. Dit is nie 'n voorgeskrewe program nie, maar wel 'n vorderingsproses.
In vandag se oordenking, asook in die volgende twee oordenkings, sal ons na hierdie vordering kyk. Ons kan dit soos volg opsom: Eerstens kom jy na Jesus om net by Hom te wees; geleidelik begin jy verander en word jy meer soos Jesus; uiteindelik — en onwillekeurig — begin jy om te doen wat Hy in die wêreld gedoen het.
Hierdie verloop word duidelik in die verhale van die oorspronklike dissipels gesien. Hulle het maande, of moontlik jare, deurgebring deur Jesus oral in Israel te volg en by sy voete te sit. Stadig maar seker, het hulle begin verander, en uiteindelik het Jesus hulle "... uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig ..." (Lukas 9:2).
Jy is moontlik 'n nuwe leerling van Jesus en jy wonder dalk: "Waar moet ek begin?" Jy begin hier, met doelwit #1: Saam met Jesus.
Watter gedagtes kom by jou op wanneer jy 'n "gewoonte van nabyheid aan Jesus" as 'n moontlikheid oorweeg? Sal jy bereid wees om vandag in jou gedagtes en hart stil te raak — 'n paar minute op 'n slag — om doelbewus Jesus se teenwoordigheid in jou lewe te ervaar? Op watter praktiese maniere kan jy dit doen?
Aangaande hierdie leesplan
Wie is jy besig om te word? Wanneer jy jouself in jou gedagtes voorstel as 'n 70-, 80-, of 100-jarige persoon — watter soort mens sien jy op die horison? Vul hierdie beeld jou met hoop? Of met verskrikking? John Mark Comer onderrig ons deur middel van hierdie oordenking sodat ons geestelik kan groei en daagliks meer en meer soos Jesus word.
More