Leef vryVoorbeeld
Laat die rivier vloei
Dankbaarheid is ’n magneet wat wonderlike dinge aantrek en laat gebeur. Maar, om eerlik te wees, dit voel belaglik, onvanpas en onmoontlik om te midde van trauma of hartseer na reënboë en silwer randjies te soek.
Ek het 'n eksperiment gedoen gedurende ’n seisoen van besondere swaarkry deur met 'n nuwe dankbaarheidsjoernaal te begin. Ek het die gewoonte om dankbaar te wees aangeleer en ervaar dat dit genesing en geluk meebring. Ek het elke dag dankbaar gesoek na klein gewone geskenkies rondom my soos byvoorbeeld ’n besondere mooi boom of ’n heerlike koekie in die kas om saam met met my koffie te geniet. Ek het weggedraai van my hartseer af en gekies om eerder dankie te sê vir dinge.
Maar toe het ’n vriendin my uitgedaag om elke paar dae doelbewus weer die pyn van my hartseer te voel, daaroor te huil en dit dan weer weg te bêre. Daarna geniet ek dan die koekie saam met my koffie of selfs harde musiek baie meer. Ek hou ook daarvan om dan my man se hand vas te hou, met die hond by die rivier te gaan stap of braambessies te pluk en my te verwonder aan hoe mooi en volmaak dit is. Ek het begin verstaan dat dankbaarheid alleen nie genoeg is nie. Ek kon die hartseer nie laat stagneer nie. Ek moes toelaat dat daardie rivier van pyn deur my vloei.
Toe het ek agter in my dankbaarheidsjoernaal 'n lysie begin maak van alles wat ek verloor het. Ek skryf nog steeds in daardie joernaal. Een of ander tyd gaan my lysies van dankbaarheid en smart in die middel van die joernaal oorvleuel en ek dink wanneer dit gebeur, sal ek ’n gesonder mens wees.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ek is seker jy wil vry wees om die beste moontlike weergawe van jouself te wees. Ek ook. Maar om daardie persoon te wéés, moet jy soos so 'n persoon dink. Ons denke bepaal ons lewenstyl. Ons manier van dink bepaal ons gevoelens, wat weer ons optrede bepaal. ’n Ingesteldheid van dankbaarheid kan dus een van ons beste bates wees.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/