Die Beloofde MessiasVoorbeeld

Die Beloofde Messias

DAG 10 VAN 29

Week 2 - Die Lydende Dienaar

Oor ons oortredings

Lees: Jesaja 52:13–53:12

SOAP: Jesaja 53:5

"Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom."

Oordenking

Die Boek Jesaja was ‘n profetiese boodskap van oordeel en herstel vir God se volk. Waar God Jesaja gebruik het om sy volk teen komende oordeel te waarsku, het Hy ook toekomstige herstel en hoop beloof. Die gedeelte wat ons vandag lees, is midde-in God se beloftes van herstel. Ofskoon God sy volk sou straf deur toe te laat dat hulle oorval en in ballingskap weggevoer word, het Hy ook belowe om hulle volkome te herstel.

Daar, te midde van God se belofte dat Hy Israel sal herstel, verkondig Hy dat Hy sy dienskneg sou stuur wat die sondes van sy volk sou kom dra om hulle te verlos. Hierdie dienaar van God sou egter baie ly om verlossing aan ander te bring.

Hy sou verag en verstoot word en pyn en siekte ken. Hy sou gewond word, soos ‘n lam na die slagplek gelei word. Hy sou onregverdig verhoor word en saam met misdadigers doodgemaak word, al het Hy niks verkeerd gedoen nie. Hy sou baie ly en as gevolg van sy lyding sou Hy baie vryspreek en namens hulle by God intree.

God se beloftes is waar en goed, maar die pad na die vervulling van die beloftes is dikwels vol pyn en lyding. Dit was die geval met Jesus, want Hy het gely sodat ons ‘n verhouding met Hom kan hê en van sonde en dood vrygemaak word. Sy lyding was deel van God se belofte.

Ons ly dikwels terwyl ons wag op die vervulling van God se beloftes. Ons wag dalk vir genesing, herstel of vrede, maar terwyl ons wag op sy antwoord, kan ons pyn verduur. Ons is nie alleen in ons lyding nie, maak nie saak wat ons in die gesig staar nie. Jesus het vir ons gely sodat ons nooit alleen in ons pyn en lyding sou wees nie. Hy is die vervulling van al God se beloftes. Mag ons Hom loof en in ons daaglikse stryd en pyn ons krag en vertroosting by Hom soek.

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Die Beloofde Messias

Wanneer God ‘n belofte maak, het Hy reeds ‘n plan om dit gestand te doen. Sy grootste belofte, om vir ons ‘n Verlosser te stuur om ons van sonde te red, word bewys deur die lewe, dood en opstanding van Jesus. In hierdie studie gaan ons dieper delf in die spesifieke messiaanse beloftes wat God aan sy volk gemaak het en hoe Jesus elkeen van hierdie beloftes vervul het.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.loveGodgreatly.com