Die Onderstebo Koninkryk: 'n 8-dag Studie deur die SaligsprekingeVoorbeeld

Vrede Sal Met Jou Wees
Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word (Matteus 5:9).
LAAT ONS BEGIN
'n Intern het my onlangs gevra: "Wat is die belangrikste struikelblok vir vrede in die kerk vandag?" Dadelik het ek 'n groot klomp bekende konflikte onthou: kleinlike jaloesieë, ambisies wat eenheid ontwrig, huishoudelike twis wat huwelike verwoes en egskeiding tot gevolg het, ensovoorts. Kop en skouers bo hulle almal het dít uitgestaan wat waarskynlik die enkele grootste bedreiging vir vrede in die hedendaagse kerk kan wees — politieke vooroordeel wat kulturele waardes (baie van hulle redelik aanvaarbaar) bó die groot sendingopdrag prioritiseer.
Vandag trek baie Christene 'n verband tussen hul politieke partye en die duidelike teenwoordigheid van Christus se koninkryk, en neem hulle 'n partydige houding in met slagspreuke en aanvalle van verontwaardiging wat hoofsaaklik die maniere is waarop hulle hulself identifiseer. Gevolglik verteenwoordig lede aan die opponerende kant nie net 'n ander standpunt nie, maar word selfs as 'n afskuwelike euwel beskou. Dit is hierdie vyandiggesindheid wat tans polities progressiewes en polities konserwatiewes verdeel — selfs binne die kerk.
Is dit moontlik vir die kerk om hierdie ideologiese geveg anders te benader?
GODSDIENSTIGE INSIG
Om vrede te maak, beteken nie bloot om goed of vriendelik te wees nie. Dit blus ook nie die vlamme van vyandigheid nie. Dit is God se Goddelike plan vir 'n gemeenskapslewe waarbinne Christus ons harte vul en dan, voortvloeiend daaruit, die wêreld deurdring.
WAARNEMINGS
Die manier waarop God vrede uitbrei, stem ooreen met die manier waarop Hy geregtigheid verleen — aan ons, in ons en deur ons. Soos Paulus verduidelik, bied God vrede aan die vrygespreektes “... deur ons Here Jesus Christus” (Romeine 5:1). Dit is die instelling van ons gedagtes op die Gees wat lei tot diep dimensies van innerlike vrede (Romeine 8:6). Laastens is dit ons roeping om God se vrede deur ons te laat vloei deur dít na te streef "... wat die onderlinge vrede en opbou bevorder" (Romeine 14:19). Hierdie volgorde maak saak — omdat ons nie kan aanbied wat ons nie reeds besit nie.
Angs kan ons egter van ons beloofde vrede beroof. Ons het almal oomblikke van angs en geïrriteerdheid — miskien vir dae, weke of 'n vasgestelde tyd — maar Goddank hou dit nie vir ewig aan nie. Dieper en meer basies as hierdie innerlike onrus, is ons identiteit as seuns en dogters van God in eenheid met Christus wat deur die Heilige Gees in ons woon. Hierdie inwoning maak ons harte sag en lei ons onverbiddelik — selfs ook geleidelik — na vrede.
In praktiese terme is die versoek aan ons om vrede te maak bloot die openbare uitleef van wat die Gees in ons harte doen — die koestering en vertoon van Christus aan die werk.
TOEPASSING
In plaas van agterdog en binnegevegte, wat daarvan as ons geduld en vriendelikheid betoon en alles in die Naam van Christus verdra (1 Korintiërs 13:4, 7)? Wat as ons ander behandel soos ons self behandel wil word (Matteus 7:12; Lukas 6:31)? Wat as ons Paulus se woorde in Kolossense 4:6 ter harte neem: “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord”?
Kan ons ons byvoorbeeld daartoe verbind om die ongeborenes te beskerm en God se siening van die gesinsopset te bewaar, terwyl ons ook rasse-ongeregtigheid aanspreek en die armes help? Hierdie manier van vrede maak, vra nie dat ons ons teologiese oortuigings moet prysgee nie. Dit vereis egter van ons om ons gekruisigde Verlosser na te volg; die Een wat liefde teenoor vyande betoon het (Matteus 5:44).
Ons posisie as seuns en dogters van God lei ons meer en meer na die Goddelike praktyk om vrede te maak. Sulke vrede is nie maklik of goedkoop nie, maar die God van vrede, wat ons Here Jesus uit die dood opgewek het, sal dit sekerlik laat seëvier (Hebreërs 13:20).
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

In die saligsprekinge (Matteus 5:2-12) spoor Jesus ons aan om onsself van die wêreld af te sonder, deur in 'n teenkultuur te leef met 'n nuwe identiteit wat in Hom gewortel is. Die Onderstebo Koninkryk ondersoek hierdie teenintuïtiewe wysheid sowel as die relevansie daarvan vir vandag.
More