Die Onderstebo Koninkryk: 'n 8-dae Studie deur die SaligsprekingeVoorbeeld
Proe en Sien
Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word (Matteus 5:6).
LAAT ONS BEGIN
Almal van ons weet hoe hongerte voel. As uitgehongerde babas het ons gehuil, en as honger volwassenes kan ons geïrriteerd raak, sogenaamd "hangry". Ons ken ook die soort honger wat ons dwing om op te offer en te presteer; 'n honger wat ons gedagtes in beslag neem, ons visie vorm en aanleiding gee tot ons ambisies. Met verloop van tyd vorm hierdie honger ons identiteit. Dokters sê dikwels "ons is wat ons eet." Dit is 'n stelling wat ewe waar is in die geestelike ryk.
Wanneer ons 'n dieet van selfsugtige ambisie, dubbelsinnigheid, materialisme en ontrouheid handhaaf, leef ons onvermydelik hierdie eienskappe uit. Soos die voedselverslaafde wat die hele blikkie Pringles verorber en dan na die houer Dairy Maid roomys beweeg, kan ons van morele toegewings na dieper patrone van selfvernietiging beweeg, insluitend gierigheid, wellus, afguns en die ander sogenaamde "dodelike sondes". Filosoof James K.A. Smith beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan om ons honger te “herreguleer”. Dit wil sê om ons diepste verlange en begeertes aan die oppergesag van Christus te onderwerp.
Ons word geroep om te honger en dors na geregtigheid.
GEESTELIKE INSIG
Die geregtigheid wat ons moet soek, is God se verlossende genade — 'n genade wat die mensdom seën waar ons dit die nodigste het: in ons verhouding met God, in die vernuwing van ons siele en in die strukture van die samelewing.
WAARNEMINGS
God se geregtigheid openbaar sy heerlikheid as Hy sy genadige hand van verlossing uitstrek. Jesus het hierdie geregtigheid verpersoonlik, en nou geniet elkeen wat Hom deur geloof omhels sy verlossende seën. Toe Matteus, die tollenaar, berou het, het hy God se geregtigheid en seën ervaar. So ook die prostitute en diegene wat as “sondaars” afgemaak is. Jesus het dus vir die godsdienstige heersers gesê: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in” (Matteus 21:31). Is dit 'n wonder dat die Joodse leiers Hom probeer arresteer het? 'n Alternatiewe koninkryk was nou besig om hul godsdiensekonomie in te dring — inderdaad, die koninkryk van God.
“Hierdie seën,” sê Donald Hagner, “word nie toegeskryf aan presteerders nie, maar aan ontvangers.” Ons moet baie hard werk om die natuurlike drang te weerstaan om iets in onsself te vind wat God se guns verdien. Van begin tot einde word ons gered deur Goddelike inisiatief. Hoe anders kan ons God se aanvaarding van lafaards soos Abraham en egbrekers en moordenaars soos Dawid verduidelik? (Sien Romeine 4:1-8.) Hoe verduidelik ons inderdaad ons eie geloof?
TOEPASSING
Alhoewel hulle gestry het vir hierdie evangelie van regverdigmaking deur geloof alleen, het die hervormers daarop aangedring dat ons geloof nie alleen kan staan nie. Calvyn was oortuig dat "ons nie droom van 'n geloof sonder goeie werke of van 'n regverdiging wat daarsonder staan nie." Verenig met Christus word ons deur die Gees vernuwe, wat weer die vrug van geregtigheid oplewer (Galasiërs 5:22–23).
Op hierdie manier verander Jesus ons eetlus van binne na buite. So iemand, sê Martin Luther, “werk en streef voortdurend met alle mag om die algemene welsyn en die behoorlike gedrag van almal te bevorder en ... help om dit te handhaaf en te ondersteun deur woord en daad, deur voorskrif en voorbeeld.”
Diegene wat honger en dors na geregtigheid sal wys dat hulle versadig is deur toenemend meer regverdige (maar steeds onvolmaakte) lewens te lei. Honger en dors jy na geregtigheid? Hoe word hierdie nuwe aptyt in jou lewe geopenbaar?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
In die saligsprekinge (Matteus 5:2-12) spoor Jesus ons aan om onsself van die wêreld af te sonder, deur in 'n teenkultuur te leef met 'n nuwe identiteit wat in Hom gewortel is. Die Onderstebo Koninkryk ondersoek hierdie teen-intuïtiewe wysheid en ondersoek die relevansie daarvan vir vandag.
More