Lewe Deur Die Gees: Oordenkings Deur John PiperVoorbeeld
Die Gees Vul Ons Met Vreugde
Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen. Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul — Efesiërs 5:15-18.
Hoekom drink mense wyn om vrolik te voel? Ons almal wil gelukkig wees, maar dit veroorsaak 'n probleem, 'n "goddelose tyd" (v 16).
Waarnatoe gaan jy as die tye boos is, as jy bang, moedeloos, depressief of angstig is? Paulus pleit by ons: "Moenie dronk word van wyn nie, maar word met die Gees vervul. Die Gees van God kan jou soveel meer bied as wyn."
Daar is mense wat nie bedags 'n vrolike wysie kan fluit nie, omdat hulle angstig en gespanne oor die lewe is. Maar later die aand, in 'n kroeg, nadat hulle 'n paar drankies agter die blad het, kan hulle hand-om-die-lyf met vriende sing en gesels.
Almal wil sorgvry en gelukkig wees. Ongelukkig is daar al hoe meer mense (ook gelowiges) wat dink dat alkohol die enigste manier is om dit te verkry. Sulke gedrag vereer nie vir God nie. Paulus sê: Daar is 'n beter manier om in moeilike tye op te tree — word met die Gees vervul sodat julle tot eer van God kan sing.
Wat beteken dit om met die Gees vervul te wees?
Die Gees wat in ons kom woon is die Gees van vreugde wat ook teenwoordig is by God die Vader en God die Seun, omdat hulle in mekaar behae het. Dit beteken dus om deel te wees van die vreugde wat in die Drie-eenheid bestaan en om God die Vader en God die Seun lief te hê soos hulle mekaar liefhet.
Die pad wat die Gees deur die warboel van ons lewens maak tot by vreugde, word in geloof gemaak. Volgens Paulus moet 'n mens God vertrou om met die Gees vervul te word — nie een mossie sal op die grond val sonder die wil van julle Vader nie (Matteus 10:29) — besef dat Hy in beheer van jou lewe is. As jy dit glo, sal jy met die Heilige Gees en vreugde vervul word.
Lees meer: http://www.desiringgod.org/messages/be-filled-with-the-spirit
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
7-Dag Oordenking oor die Heilige Gees deur John Piper
More