Uiters GeliefdVoorbeeld

Greatly Loved

DAG 1 VAN 5

Het jy al ooit geïgnoreer, verwerp, onwaardig of ongeliefd gevoel? Indien wel, jy is nie van jou sinne beroof nie, en jy is nie alleen nie. Sedert die begin van tyd, is ons sielevyand besig om teen ons te veg, wetende wie ons werklik is.

Hy wil nie hê dat ons moet weet ons is uiters geliefd nie. Uitverkore. Uitgesoek. Boonop die moeite werd om voor te veg. Hy weet dat, as ons ontdek wie ons werklik is, ons dit met selfvertroue sal begin uitleef. Dit sou ons perspektief en houding verander, en die kinders van God wat hulle doelwitte uitleef, hou die grootste bedreiging vir sy plan in.

Miskien is vir jou gesê dat jy nie genoeg is nie, nie genoeg doen nie, of nie so belangrik soos ander is nie. Jy kan nooit ontslae wees van jou verlede se seer nie, of jy sal altyd vasgevang wees in 'n kringloop van nie goed genoeg wees nie.

Ek het ook al hierdie dinge ervaar. Ek wil vir jou sê wat ek wens iemand jare gelede vir my kon gesê het: jy is meer as wat vir jou gesê is.

Niemand het die mag om jou te definieer nie, behalwe die Een wat jou geskep het.

God bestee baie tyd daaraan in die Bybel om vir ons te vertel wie ons is.

Regdeur hierdie 5-dag leesplan gaan ons nege name ontleed wat God ons noem.

Wanneer ons onsself sien soos ons Skepper ons sien, sal ons ontdek wie ons werklik is en wie ons nog altyd was.

Vir die een wat onbeminlik voel, te gebroke, en asof jy nie van dinge in jou verlede ontslae kan raak nie ... Jy is meer as wat vir jou gesê is. Jy is uiters geliefd.

Romeine 5:8 sê: "Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was."

Ons is so geliefd dat, selfs terwyl ons teen God was, God reeds vír ons was. Voordat ons God gekies het, het Hy ons gekies. Terwyl ons van Hom af weggehardloop het, het Hy agter ons aan gehardloop. Terwyl ons getwyfel het. Terwyl ons terughoudend was of Hom op 'n afstand gehou het. Hy het so 'n matelose, ewige en nimmereindigende liefde vir ons dat Hy sy enigste Seun, Jesus, gestuur het om vir ons te sterf.

Niks wat jy nog ooit gedoen het, het gemaak dat Hy jou minder liefgehad het nie. Hy was toe lief vir jou. Hy is nou lief vir jou. Hy het nooit opgehou om jou lief te hê nie. Hy is lief vir jou te midde van alles.

Hy is op hierdie oomblik vir jou beskikbaar. Hy sal graag van jou wil hoor.

Uiters geliefd. Dít is jou naam.

Vriend, terwyl ons probeer om die vyand se leuens te ontbloot en God se waarhede te ontsluit, is hier 'n paar vrae om te vra:

  • Wie se stemme is die hardste in my lewe?
  • Vir wie se mening gee ek die meeste om?
  • Wie het eenkeer iets negatiefs gesê wat vorm gegee het aan hoe ek myself gesien het?
  • Watter gesag het hulle om te definieer wie ek is?

Hier is 'n paar waarhede wat ons gaan onthul:

  • Ons gaan nie deur die gebroke siening van ander mense ontdek wie ons is nie.
  • God se stem moet die hardste stem in ons lewens wees.
  • Ons moet onsself sien soos God ons sien.

Moenie toelaat dat die vyand oorwinning oor jou identiteit of jou lewe kry nie. Gee vandag die ou name oor wat jou te lank gedefinieer het. Kies om betrokke te raak by die Woord van God en wat God van jou sê.

Wanneer jy weet wie jy is, verander dit hoe jy leef.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Greatly Loved

Hosanna Wong weet eerstehands hoe om geïgnoreer, onwaardig en ongeliefd te voel. In hierdie 5-dag leesplan ontleed sy nege name wat God jou noem en bied praktiese, doodgewone aanmoediging om jou te help om leuens te ontbloot, jouself te sien soos God jou sien en met 'n nuutgevonde houding en doel te leef.

More

Ek wil graag vir Hosanna Wong vir die verskaffing van hierdie leesplan bedank. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://hosannawong.com/greatlyloved