Uiters GeliefdVoorbeeld
Ek het jare lank die leuen geglo dat ek nie genoeg was nie, my agtergrond was nie genoeg nie, my gesin was nie genoeg nie en my werklike storie was nie genoeg nie. Ek het gevoel dat ek te anders was, en niemand het die regte ék verstaan nie. Ek het dus jare bestee om te probeer verander wie ek was om in te pas, in wat ek vermoed het, die norm was.
Het jy al ooit gevoel dat jy nodig het om wie jy werklik is en waar jy werklik vandaan kom minder belangrik te maak, of moet verander wie jy werklik is om aanvaar te word en effektief te wees op plekke waar God jou geplaas het?
Dit is presies wat die vyand hoop ons sal doen.
Wanneer ons op die verkeerde name reageer, leef ons 'n verkeerde weergawe van ons verhaal uit. Die verdraaide stories wat ons oor onsself glo, kan ons in verkeerde lewenspatrone vasvang.
Die waarheid is dat dit jou daadwerklike agtergrond, storie en presiese besonderhede is wat God op hierdie presiese oomblik in tyd wil gebruik.
Natuurlik wil die vyand jou oortuig dat jou besonderhede nie waarde het nie. Hy kan nie waag dat jy ontdek wie jy werklik is en jou doel uitleef nie.
Dit is tyd om die verdraaide beskrywings af te leer en uit te leef wie ons werklik is.
Vir die een wat onwaardig voel of "minder as" … Jy is meer as wat vir jou gesê is. God noem jou sy Meesterstuk (Efesiërs 2:10).
Ons is die handewerk van die Kunstenaar van die hemele en die aarde. Wanneer kunstenaars iets skep, is hulle doelgerig met die besonderhede. Verwers kies 'n spesifieke kwas om op 'n skoon skilderdoek te verf. Digters kies 'n spesifieke styl en struktuur om 'n sekere verhaal te vertel. Dansers bepaal die beste beweging vir daardie één oomblik in daardie één liedjie. Fotograwe en filmvervaardigers soek die beste situasie, beligting en tekstuurafwerkings moontlik om die volle verhaal bekend te maak wat hulle wil vertel.
Kunstenaars is gedetailleerd — mag ek dit waag om sê, kieskeurig — en neem hul tyd om 'n skilderstuk te skep waarop hulle trots is. Soveel te meer was God se bedoeling toe Hy ons gevorm het. Hy het 'n sekere kwas, agtergrond, verwysingsraamwerk en samestelling gekies om jou lewe reg in te rig — vir jou beswil en tot sy eer.
Jy is 'n kunswerk wat noukeurig gemaak is om die goeie werke van God uit te voer. Jy is geen afgewaterde handelsmerk nie. Jy is fyn kuns. Jy is uitsonderlik. Jy is enig in jou soort, pasgemaak deur die Skepper van alle dinge.
God se meesterstuk. Dit is jou naam.
Vir die een wat skaam voel oor jou liggaam as gevolg van wat daaroor gesê is, wat jy daarmee gedoen het, of wat daaraan gedoen is … Jy is meer as wat vir jou gesê is. Jy word die tempel genoem waar die Heilige Gees woon (1 Korintiërs 6:19).
Geen mens kan jou inherente, Godgegewe, intrinsieke waarde wegneem nie. Maak nie saak wie misbruik van jou gemaak het, of hul mag gebruik het om jou seer te maak nie. Dit maak nie saak wat jy voel jy verloor het as gevolg van jou keuses nie. Wanneer jy jou lewe aan Christus gee, noem die Woord van God jou liggaam die plek waar die Heilige Gees woon. Jou liggaam is goed. Jy het waarde. Jy het nog altyd waarde gehad. Mense het nie die mag om jou uiteindelike waarde te bepaal nie, wat ook beteken dat hulle dit nie kan wegneem nie.
Jy word nie gedefinieer deur wat jy gedoen het of wat aan jou gedoen is nie.
God se tempel. Dit is jou naam.
Moenie toelaat dat die vyand dít verdraai wat God goed gemaak het, vir goeie dinge en om aan Hom eer te bring nie.
Nooi God vandag na die teer plekke van jou storie en vra Hom om jou te genees. Bid dat Hy vir jou sý siening van jou lewe en storie gee.
Aangaande hierdie leesplan
Hosanna Wong weet eerstehands hoe om geïgnoreer, onwaardig en ongeliefd te voel. In hierdie 5-dag leesplan ontleed sy nege name wat God jou noem en bied praktiese, doodgewone aanmoediging om jou te help om leuens te ontbloot, jouself te sien soos God jou sien en met 'n nuutgevonde houding en doel te leef.
More