Dis Tyd Vir Vrae VraVoorbeeld

Dis Tyd Vir Vrae Vra

DAG 4 VAN 5

DAG 4 Wat bêre ek?

Jesaja 43:18: “Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom.”

Polaroids. Kiekies van ouds. Hulle lyk soos klein venstertjies van vervloë dae. Hulle laat jou gedagtes vinnig in trurat oorskakel. Jy dink soms dit was beter dae — of dalk nie. Sommige kiekies herinner jou aan baie (uiterlike) mooi mense.

Maar die kiekies wat my fassineer, is dié van familie: almal saam gegroepeer soos ‘n troppie plaasdiere, baie ernstig en gefokus op die kameralens. Ander kiekies getuig van skoon vakansiestrande sonder heinings, hoë drade en sorge. En dan word die kiekies teruggegooi in ‘n ou, stowwerige kantondoos en in ‘n laai gebêre. Ai, daardie dae ...

Wat bedoel ons regtig as ons praat van en kyk na “daardie dae”? Is dit die veilige gemaksone waarna baie mense verlang? Ek verlang ook na laer pryse, oop vlaktes vir kilometers aaneen, werk vir almal ... Wat sou die korrekte antwoord hierop wees of sal ons eerder bly staar soos na die kameralens om die perfekte prentjie aan die wêreld daarbuite te wys? Hoe lyk die venster van jou hart en wie sal daardeur wíl loer?

Wanneer ons weer 'n slag na ons ou kiekies kyk, is dit asof ons ‘n ander wêreld vanuit ‘n vergete dossier, wat êrens in ons geheue in 'n boks gebêre is, voor ons sien. Elke kiekie het ‘n storie, maar dit word so min vertel. Ons almal kan deur middel van kiekies die draad van ons lewensreis aanmekaarweef en tog versuim so baie om dit te doen. Waarom bêre ons hierdie vensters na ons menswees so ver weg? Miskien maak dit seer of miskien maak die gedagte dat daardie tye anders was as nou, ons net te mismoedig.

Ek wens ek kan van die kiekies in my lewe uitvee en met helderder pastelle inkleur. Ek wens ook ons het oop ruimtes, veiligheid en vryheid. Maar as ek dit soos in die tydkapsule-film Back to the Future sou kon doen, sal my hele storie verander. Ek sou nie kon verstaan van iemand se seer nie, ook nie van alleen of selfs honger en verstote wees nie. Ek sou geen begrip hê van God se genade en heling nie, want dan sou alles net te "reg" gewees het.

Vreemde gedagte …

Realiteite beïnvloed ons beslis binne ons huidige lewensvenstertjies. Dis net anders as op die Polaroid kiekies. Dit maak seer om daarna te kyk en te verlang. Die besef dat ek menslik gesproke al meer as halfpad van my lewe geleef het, het my sielsvenster 'n tydjie gelede toegewasem.

Realiteite. Dit mág nie my en jou storie verander nie.

Wat bêre jy daar diep binne in die laai of vergeelde album? Vertel jy jou storie? Het jy al die draad van jou reis gevolg en op die tafel van jou hart geskryf? Het jy al besef dat daar êrens ‘n Hoër Mag is wat jou steeds bymekaar hou?

Vader, herinner my deur u Gees dat gister laasnag geëindig het. Laat my herinneringe die stories vertel van hoe u hand in my lewe gewerk het — en steeds werk.

Die volgende raakvat terme dans konstant in my gedagtes:

Vertel iemand hoekom

Tel iemand op

Deel jou storie

Leef iemand raak

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Dis Tyd Vir Vrae Vra

'n Mens haak soms tydens jou reis met God by verskeie vrae vas. Ons almal het vrae oor verskillende dinge. In hierdie leesplan is daar vyf vrae wat jy heel moontlik al êrens op jou lewensreis gevra het. Jy kan natuurlik op verskeie maniere oor 'n vraag dink. Lees gerus hierdie leesplan — dalk is daar vrae waarmee jy kan identifiseer!

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/