Dis Tyd Vir Vrae VraVoorbeeld
DAG 3 Hoe voel ek?
Johannes 14:27: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moenie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie."
Hoe skryf 'n mens opbouende sielskos sonder om jou eie lewe as verwysing te gebruik? Stories vertel só baie oor genade, emosies, drome en belewenisse.
Gedurende my grootwordjare was daar legio uitdagings. Ek en my “verbeel-maatjie” (haar naam was Linda), het diep gesprekke oor waar “ons” eendag gaan beland, gevoer. Wat gaan die lewe vir ons opdis? Dalk sou “ons” bekend word, die wêreld vol rondreis en baie mense leer ken. Dalk sou ons êrens ‘n impak maak wat talle mense se lewens sou verander. Ons het nie gedink aan wat dit sou wees nie, maar ons het geweet ons wou verandering en vreugde bring.
Ons wou blink sterretjies oor die aardbol strooi. Ons het só goed gevoel daaroor!
Toe gebeur die lewe. Toe word “ons” planne "my" planne. Lewe en Toekoms het hul eie roetes ingeslaan. Êrens het ek en Linda mekaar verloor. Sy het my gehelp om te droom. Sy het my gehoor. Die sterretjies in my hart het hulle vervaldatum bereik, maar ek het dit nie weggegooi nie.
Ek het onlangs weer aan Linda gedink. Ek wonder wat sy sou kwytraak oor die gedagtes in my kop en die lyne op my gesig. Sy wou waarskynlik opgewonde gil: "Hallo, kom ons kleur weer in!” of “Moenie bekommerd wees nie. Hier's 'n lekkertjie."
Ek hou steeds van sterretjies en inkleur alhoewel op ander maniere as wat Linda dit sou doen. Lewe en Toekoms het my ingehaal op die baan van Keuses. Sommige was goed, ander was minder goed. Keuse hou nie van blink nie. Keuse stoei met jou hart en gevoelens. Ek het eenmaal gelees dat laasgenoemde egter nie goeie leiers is nie.
Maar in my hart is die vervalde sterretjies steeds veilig gebêre in ‘n vakuum van hoop. Hoop verval nie. En sterretjies bly mooi om te strooi, ongeag hoe ek voel.
Vader, aan U is elke gedagte en gevoel reeds bekend. U is omvattend in elke aspek van my lewe betrokke. Ek kies om dit ráák te sien.
Daar is soveel maniere om jou gevoelens veral wanneer jy swaarkry, hartseer is, verlies ly of in onverstaanbare omstandighede verkeer, te bestuur. Kies doelbewus om so dikwels as moontlik ‘n nota van dankbaarheid te skryf — daar ís iets in elke dag! Strooi dan sommer ook sterretjies in jou hare of op jou hond!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
'n Mens haak soms tydens jou reis met God by verskeie vrae vas. Ons almal het vrae oor verskillende dinge. In hierdie leesplan is daar vyf vrae wat jy heel moontlik al êrens op jou lewensreis gevra het. Jy kan natuurlik op verskeie maniere oor 'n vraag dink. Lees gerus hierdie leesplan — dalk is daar vrae waarmee jy kan identifiseer!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/