Dis Tyd Vir Vrae VraVoorbeeld

Dis Tyd Vir Vrae Vra

DAG 1 VAN 5

DAG 1 Hoe lyk ek?

Psalm 139:13-14a: “U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.”

Jy hoor dikwels dat mense (mans en vrouens) oor hulle voorkoms wroeg. Dit pla hulle hoe hulle lyk en hoeveel hulle weeg. Hulle is baie bewus van die lyne van tyd wat op hulle gesigte wys en hulle soek gedurig na 'n beter "buitekant". Baie vergelyk hulleself daagliks met ander mense en streef na die beeld wat die media dikteer. Die wêreld verwag volmaaktheid en ontwikkel talle middels om dit te bereik. Realiteitsprogramme op televisie motiveer jou om met jouself behep te wees. Dit is al só diep ingewortel in ons samelewing dat mense dit nie eens meer oplet nie. “Hulle sê dat hierdie pille binne 10 dae sal werk.” Wie is hulle regtig?

Wie is jy? Wie het jou geskape?

Dit is belangrik om na jou liggaam om te sien deur gesond te eet, te oefen, genoeg slaap te kry en netjies te wees. Jy het net één lyf! Tog bly ons allerlei middels afsluk, inspuit en aansmeer. Die bekende prediker en evangelis, Francis Chan, het gesê: “Hoe durf ons onsself dissekteer en fout vind? Hoe kan jy dit wat God geskape het, verkleineer en eerder iemand anders wil wees?"

Die wêreld druk ons vas in 'n hoek deur alles aan die uiterlike te meet. Hoe kan die Heilige Gees gemaklik voel binne-in ons as alles gaan oor hoe ons aan die buitekant vertoon? In bogenoemde Psalm lees ons duidelik hoe God ons gevorm het en oor ons gedroom het. Elkeen is uniek. Hoe sal die wêreld daar uitsien as almal lyk soos poppe met geen vlekke of foute nie en volmaak is in alle opsigte? Wat is volmaak?

Daar is net Een wat volmaak is en dit is God. Elke asemteug wat ons elke dag neem, kom van Hom af. Hy gee dit heeltemal verniet vir ons! Die brood wat ons eet, word ook deur Hom voorsien. Hy seën ons met gawes wat ons kan gebruik om ons werk te doen en 'n inkomste te verdien. Ons kan en moet kies watter dinge die meeste gewig dra en ewigheidswaarde het.

Here, ondersoek my hart en my bedoelinge met my liggaam, waarin U wil woon. Help my om meer in geestelike kos in my binnekant te belê en in gesonde gewoontes. Open my oë om te sien wat U sien met die bril waarmee U na my kyk.

Daar is net een van jóú! Daar is ook net een stel van jou vingerafdrukke in die hele wêreld. Moenie vandág se unieke belewenisse vir jou misloop deur ander se standaarde joune te maak nie. Kyk in die spieël en sien Jesus se oë wat terugkyk na jou.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Dis Tyd Vir Vrae Vra

'n Mens haak soms tydens jou reis met God by verskeie vrae vas. Ons almal het vrae oor verskillende dinge. In hierdie leesplan is daar vyf vrae wat jy heel moontlik al êrens op jou lewensreis gevra het. Jy kan natuurlik op verskeie maniere oor 'n vraag dink. Lees gerus hierdie leesplan — dalk is daar vrae waarmee jy kan identifiseer!

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/