Dis Tyd Vir Vrae VraVoorbeeld
DAG 2 Wat van die toekoms?
Filippense 4:6-7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes wag hou in Christus Jesus."
Ons skree graag oujaarsaand stiptelik om 00:01 saam met ander: "Drie ... twee ... een ... gelukkige nuwe jaar!” ‘n “Nuwe jaar” is eintlik soos enige ander dag. Jou gedagtes en gewoontes is steeds dieselfde as die vorige dag. Wat maak ‘n nuwe jaar uniek?
Hoop. Fokus. Optimisme. Kom ons probeer weer! Dis ‘n nuwe tydgleuf. Al hierdie woorde word soms roekeloos rondgegooi met die bedoeling om beter te voel en te doen en as ‘n poging om die "nuwe jaar" welkom te heet. Hoe beweeg 'n mens egter in jou lewe vorentoe in die vaste oortuiging dat alles hiérdie jaar anders gaan wees? Gaan my finansies, omstandighede, gesondheid, verhoudinge en besluite ander baadjies in volkleur dra?
Niemand weet nie. Die lewe word soos tant Sus se koekstruif in verskeie lae, kleure, smake en effens deurmekaar opgedis. Negatief? Allermins nie. Ek weet wel dat dit baie mense se ervaring is. Ek gesels met baie individue wat ver in die rooi minus van die lewe staan. Dan word ek herinner, sommer so vanuit my diepste wese:
Tot die “hier” en die “nou” stáán ek steeds, al is dit op my knieë. Tot hiertoe het God my gelei, gedra en voorsien. Hy is nie ‘n mens dat Hy kan lieg en ek die eerste teleurgestelde getuie kan wees nie. Hy bring jou nie tot hier om jou net híér te los nie!
Ek het al beleef dat ander mense se liefde my dra en dat hulle omgee sigbaar in my en ander se lewens ingeweef word. Ek het gehoor hoe iemand se werkloosheid verander is in kos op die tafel en hoe ‘n enkelmamma se noodsituasie binne ure beredder is. Ek het al gevoel hoe die warm trane van 'n middeljarige vrou, wat haar man aan iemand anders verloor het, teen my arm afloop, nadat sy my ingenooi het om salf vir haar te wees. Ek het gevoel hoe vergifnis my binneste skoonskrop. Ek het geproe hoe ‘n tannie se kruiekolwyntjies wat sy spesiaal vir my met haar rumatiekhande gebak het in ruil vir ‘n geselsie, smaak.
Môre het nie ‘n truspieël nie, slegs liefde en baie genade wat ons ook moet uitdeel. Elke dag is verpak “teen die spoed van een” soos Stephan Joubert dit mooi verwoord. "Vorentoe" beteken om met verwagting fees te vier en veral om tree vir tree aan hoop vas te hou, ongeag wat die wêreld dikteer. "Vorentoe" word ook sáám met ander ingekleur.
Here, help my om te onthou dat wanneer die dag van môre kom, U reeds lankal daar is. Ek wil op maat van u ritme saam die toekoms instap. Ek wil in u vrede leef en daagliks u naam met danksegging loof.
Die talentvolle Riana Nel sing so mooi: “... want dis tyd om te lewe, vandag is môre se gister.” Onthou jy het nie tot hier gekom net om tot hier te kom nie ...
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
'n Mens haak soms tydens jou reis met God by verskeie vrae vas. Ons almal het vrae oor verskillende dinge. In hierdie leesplan is daar vyf vrae wat jy heel moontlik al êrens op jou lewensreis gevra het. Jy kan natuurlik op verskeie maniere oor 'n vraag dink. Lees gerus hierdie leesplan — dalk is daar vrae waarmee jy kan identifiseer!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/