Herskep deur die WaarheidVoorbeeld
Die Waarheid Omtrent die Lees van Jou Bybel
Laat ek nou maar die eerste wees om dit te erken: om die Bybel te lees, is moeilik. Dit is iets wat ek vir 'n lang tyd vermy het om te doen. In my vroeë jare as volgeling van Jesus het ek nie my Bybel gelees nie omdat ek nie toe bewus was van die voordele wat dit vir my kon inhou nie. Toe ek eindelik begin het om my Bybel gereeld te lees, was dit meestal uit 'n gevoel van morele verpligting, want ek het gevoel dat ek dit "behoort" te doen om 'n goeie Christen te wees. Ek het egter nie regtig verstaan wat ek gelees het of wat ek veronderstel was om daaruit te kry nie.
Ek het verlede jaar deur 'n tydperk van teleurstelling gegaan omdat iets nie afgeloop het soos wat ek gehoop het dit sou nie. Ek het begin om dinge te dink soos: "Miskien het God van plan verander? ..." Op daardie oomblik het die Heilige Gees my aangespreek en laat besef dat ek 'n hele paar oorveralgemeende aannames oor God se karakter gemaak het wat glad nie op die Skrif gebaseer was nie. Ek het besef dat, as ek God beter wou leer ken, ek dieper in die Woord sou moes gaan delf.
Ek hou daarvan om die Bybel te beskou as God se liefdesbrief aan ons. Hy het dit aan ons gegee as 'n geskenk, sodat ons Hom beter kan leer ken en sodat ons ook kan weet hoe ons moet optree as ons op sy weë wil wandel. Die lees van die Bybel bied aan ons die kans om uit ander mense se foute en oorwinnings te leer. Die belangrikste voordeel wat die Bybel egter vir ons inhou, is om eerstehands te kan verstaan hoe diep en passievol God ons liefhet. Die wêreld sal jou probeer oortuig dat die Bybel 'n oer-oue dokument is wat geen betrekking het op vandag se samelewing nie. Die waarheid is egter dat die Woord van God lewendig en aktueel is. Dit is net so toepaslik vandag as wat dit was toe dit geskryf is. Die Bybel is ons swaard van die Gees. Dit is waarmee ons die aanslae van die vyand kan afweer en die bedoelings van ons harte kan ondersoek.
Uitdaging: Lees 1 Timoteus 4:6-16. Let op na die waarde daarvan om te oefen om in toewyding aan God te lewe. Gaan voort hiermee deur elke liewe dag tyd in die Woord van God deur te bring.
Aangaande hierdie leesplan
Een van die Satan se beste strategieë is om mense te laat voel asof hulle heeltemal alleen is in hul twyfel, angs en versoekings. Hierdie leesplan werp lig op sommige van die areas waarmee jong vrouens in hul daaglikse Christelike wandel mag sukkel. In 12 dae sal jy leer om die leuens te herken wat die Satan vir jou vertel en ook om die waarheid te ken wat in Christus te vinde is. Jy mag dalk selfs vind dat jy nie so alleen in jou stryd is as wat jy gedink het nie.
More