Herskep deur die WaarheidVoorbeeld
Die Waarheid Omtrent Versoeking
Jy mag dalk al gehoor het: "God sal nie iets oor jou pad stuur wat jy nie kan hanteer nie." Hierdie gesegde kom uit 'n aanhaling wat ons vind in 1 Korintiërs. Die vers lees as volg: "God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie ..." (1Korintiërs 10:13a). Mense neem graag hierdie vers uit konteks en ignoreer dan die tweede helfte van die vers. Wanneer jy mooi gaan kyk sal jy sien dat die tweede helfte van die vers sê: "... as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee ..." (1 Korintiërs 10:13b). Dit beteken dat God nooit iets oor jou pad sal stuur wat jy en Hy nie SAAM kan hanteer nie. Ons krag om versoeking te weerstaan vind ons in Hom! Dit is nie iets wat ons uit ons eie krag kan doen nie. Ons vind ons hoop in die wete dat ons 'n God dien wat ons nie alleen los om ons eie stryd te stry nie. Hy ken die antwoord! Al wat ons moet doen, is om Hom te vertrou om ons op die pad na oorwinning te lei.
Let op die eerste gedeelte van die vers in 1 Korintiërs 10:13 wat lees: "Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie." Dit beteken dat jy nie alleen is in jou stryd nie! Onthou, dit is geen skande om versoek te word nie, selfs Jesus is versoek toe Hy hier op aarde gewandel het. Soms laat God versoeking toe sodat ons herinner kan word dat ons Hom nodig het. Dit is nie belangrik wat die versoeking is nie, dit is hoe jy reageer op die versoeking. Gaan jy toegee? Of sal jy sterf aan jouself en jou vleeslike begeertes en kies om eerder dinge op God se manier te doen?
Uitdaging: Lees die verhaal van Jesus wat versoek word in Matteus 4:1-11. Let op hoe Jesus die Skrif gebruik om die versoeking te weerstaan. Dink na oor die verse waaraan jy kan vashou wanneer jy versoek word.
Aangaande hierdie leesplan
Een van die Satan se beste strategieë is om mense te laat voel asof hulle heeltemal alleen is in hul twyfel, angs en versoekings. Hierdie leesplan werp lig op sommige van die areas waarmee jong vrouens in hul daaglikse Christelike wandel mag sukkel. In 12 dae sal jy leer om die leuens te herken wat die Satan vir jou vertel en ook om die waarheid te ken wat in Christus te vinde is. Jy mag dalk selfs vind dat jy nie so alleen in jou stryd is as wat jy gedink het nie.
More