Kom Sit By MyVoorbeeld

Come Sit With Me

DAG 4 VAN 7

Ek het by ons onverwagse ete vir Danksegging opgedaag terwyl ek nog die ou wonde dra waaroor daar met verloop van tyd rowe gevorm het. Ek kom daar aan met my skanse gedeeltelik op en sommer baie skeptisisme in my agtersak. Tog daag ek by die tafel op. Ook my ma, my pa en my susters. Partykeer kan, om bloot net op te daag, die begin wees om nuwe brûe te bou en 'n verbintenis te maak. Om met 'n groot dosis nederigheid op te daag is selfs nog beter.

Nederigheid sê dat ek gewillig is om die ander persoon die voordeel van die twyfel te gee.

Nederigheid sê om reg te wees of om selfs gehoor te word, is nie die belangrikste nie.

Nederigheid sê ook dat ek my bes gaan doen om baie liefde te bewys, ongeag hoe iemand anders daarop reageer.

Niemand het op dié November-aand daardie presiese woorde gesê nie, maar elkeen se optrede het boekdele gespreek. God se stem was die luidste in ons midde. Ek is nie seker wie Hom ook gehoor het nie, maar ek kon nie daardie deernisvolle, onversetlike versekering ignoreer toe die Gees sê: "Kyk na my. Kyk hoe Ek die onmoontlike doen. Kyk hoe Ek gebede beantwoord wat jy nie eens geweet het hoe om te bid nie. Kyk hoe Ek jou gesin besiel met hoop, lewe en genesing op maniere wat julle jul nooit sou kon voorstel nie."

Dalk is dit wat die Heilige Gees vandag vir jou fluister. Miskien moedig Hy jou aan om van nader te kyk wat Paulus sê hoe God ons in ons swakheid ontmoet:

"Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges" (Romeine 8:26-27).

Ek het grootgeword in 'n disfunksionele gesin waar my ouers geskei was en dit sekerlik as 'n swakheid kan deurgaan. Ek het magteloos gevoel in die hantering van emosie-belaaide verhoudings met my ouers, wat my met moeë oë vol trane en wanhoop gelaat het. Ek het dikwels nie eens geweet hoe om te bid nie. Tog sien ek nou met hoop-herstelde helderheid dat God my nooit verlaat het nie. Hy werk nog die hele tyd namens my.

As jy na 'n omstandigheid of verhouding in jou lewe kyk en seker voel dat vandag se pyn en konflik altyd so sal wees; as jy miskien hoop verloor het dat enige straaltjie verlossing moontlik is omdat die kloof van bitterheid en onvergewensgesindheid te diep loop; as jy dink die mense in jou lewe sal nooit kan verander nie — dat jy nooit sal kan laat vaar, vorentoe beweeg, genesing vind nie — vra dan die Heilige Gees om namens jou te kreun. Vra die God van die onmoontlike, die God van die ondenkbare om in te tree. Dalk wil Hy vir jou die geleentheid gee om 'n onverwagse uitnodiging te rig, een te aanvaar of dalk sommer net om op te daag.

Vriend, ek weet nie watter verhoudingsbrûe in jou lewe jy voel te gebroke is om te herbou nie. Ek weet nie watter emosionele wonde uit die verlede nog steeds in jou lewe en hart verwoesting saai nie. Ek weet egter dat God by jou is. Ek weet wat vandag onmoontlik voorkom kan deur sy krag verander. Ek weet ook Hy vra dat ons sy vennote sal word. Hy vra dat ons in liefde en nederigheid na Hom sal kom. Ons moet Hom volg en ons harte oopmaak vir die moontlikheid dat Hy dalk net meer wil doen as waarvoor ons ooit kan vra of ons kan voorstel. Dit sal nie altyd maklik wees nie. Die spanning kan soms dikker wees as jou ma se klonterige sous. Om egter bymekaar te sit met 'n gedeelde, deernisvolle hoop op 'n vars uitstorting van genesing en genade, is die moeite werd.

— deur Becky Keife

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Come Sit With Me

Menswees is moeilik. Om met ander mense in verhoudings te wees is selfs nóg moeiliker. Of jy jou weg deur politieke of godsdienstige verskille voel, met giftige mense te doen het of met jou eie onvergewensgesindheid, is die vraag hoe ons hierdie stryde moet hanteer waaroor niemand wil praat nie? Hierdie leesplan sal jou wys hoe jy nader aan God en ander kan groei deur die omstandighede waarvan jy liewer wil weghardloop. Ontdek die hoop en vryheid wat na vore kom wanneer jy leer om jou te verlustig in jou verskille, liefde te midde van onenigheid en om selfs met ongemak te kan leef.

More

Ons wil graag dankie sê vir Baker Uitgewers wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek: https://bakerbookhouse.com/