Kom Sit By MyVoorbeeld

Come Sit With Me

DAG 3 VAN 7

Ek kyk terug na daardie tyd in ons huwelik, en die herinneringe steek my nog soos die klein naalde van 'n kaktus. Ons het dit oorleef om nie te skei nie, maar om wat stukkend was heel te maak, was 'n stadige en pynlike proses. Ons het erken dat ons doelbewus dele van onsself verberg het omdat ons aangeneem het die ander een sal dit nie verstaan nie en ons dus verwerp. Ons het van ons kommunikasiepatrone, wat tot pynlike onderwerpe aanleiding kan gee, kennis geneem en ons het ons oortuigings oor onsself, die ander een en die wêreld ondersoek. Ons het die terapiesessies getrou nagekom, wat baie trane, soms selfs 'n geskreeu ingesluit het, en het herhaaldelik dieselfde probleme deurgetrap.

Ek het dikwels gewonder of alles die moeite werd is — om in die huwelik te wees, of dit werd was om so baie moeite te doen vir 'n uitkoms waarvan ons geen waarborg gehad het nie. Was dit die moeite werd om deur te druk vir 'n gesamentlike toekoms wat ek my nog nie kon voorstel nie. Uiteindelik was dit net die verlossingskrag van die evangelie wat my geanker het. As wonderwerke en onmoontlike dinge in Christus kan gebeur soos die opstanding uit die dood, moes daar dan tog vir ons huwelik hoop wees. Ons kan seker ten goede verander sodat dit die moeite werd sal wees om te wag en sien wat God vir ons sal doen.

In Matteus 19:26 sê Jesus: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik." Alhoewel hierdie vers soms ligtelik in die kerk gebruik word as 'n oppervlakkige manier om moeilike omstandighede te hanteer, het ek gedurende daardie tydperk van huweliksprobleme, aan die belofte vasgehou. Dit het my in hoop geanker en my die nodige voorsiening gegee om my vir nog 'n dag aan ons huwelik te verbind, nog 'n maand en nog 'n jaar.

Dit is nie altyd moontlik om 'n huwelik of enige ander verhouding te red nie, maar wanneer dit gebeur, kan dit die moeilikste wees om die eenvoudigste dinge te doen — soos om 'n gesprek te voer, vrae te vra, belangstellend te bly en die ander een beter te leer ken.

Is dit nie wat ons tog almal wil hê nie? Om ten volle geken en gesien te wees?

Alhoewel my man gedagtes en emosies het wat hy nie openbaar nie, is dit vir hom selfs moeilik om dit te deurdink en die woorde te vind om daaraan uitdrukking te gee. As ek hom reguit oor sy gevoelens uitvra, gee ek hom die geleentheid om in die oomblik by homself betrokke te bly, om uit te pluis hoe om wat hy voel te beskryf en sy gedagtes aan my te verwoord. Deur vrae te vra, gee ek vir hom die ruimte om so ver moontlik homself te wees en verbintenisse tussen ons te skep.

Die vrae wat opduik sal dan oor verskillende verhoudinge en omstandighede gaan, maar om die regte vrae te vra en belangstellend te bly, is anders as om nuuskierig te wees. Belangstelling behou teerheid teenoor mekaar se menslikheid.

As ons iemand nie ken nie, is dit maklik om die persoon se menslikheid mis te kyk en te behandel asof hy of sy 'n voorwerp vir ons oordeel is. Ons kan aannames maak oor hul karakters, agtergrond, familie, lewe en eiegeregtig voel wanneer ons dit doen. Deur egter belangstellend te bly, hou ons hul menslikheid in die oog. Belangstelling help ons ook om te onthou dat die persoon met wie ons 'n huis deel en die kennis op Facebook, albei individue is wat deur God geskep en geliefd is. Ons stem dalk nie saam of het dieselfde waardes nie. Ons word moontlik nooit boesemvriende met die ander ma by die skool of die bure oorkant die straat nie, maar ons kan wel opreg vir mekaar omgee. Ons mag selfs uitvind dat ons dieselfde dinge snaaks vind of dieselfde passies het. Ons mag selfs agterkom ons het 'n soortgelyke hartseer of is op dieselfde plek in ons lewensreis. Ons kan dalk dan, selfs wanneer dit voel of alle hoop verlore is, klein treetjies neem om die gapings toe te maak wat deur ons verskille geskep is.

— deur Grace P. Cho

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Come Sit With Me

Menswees is moeilik. Om met ander mense in verhoudings te wees is selfs nóg moeiliker. Of jy jou weg deur politieke of godsdienstige verskille voel, met giftige mense te doen het of met jou eie onvergewensgesindheid, is die vraag hoe ons hierdie stryde moet hanteer waaroor niemand wil praat nie? Hierdie leesplan sal jou wys hoe jy nader aan God en ander kan groei deur die omstandighede waarvan jy liewer wil weghardloop. Ontdek die hoop en vryheid wat na vore kom wanneer jy leer om jou te verlustig in jou verskille, liefde te midde van onenigheid en om selfs met ongemak te kan leef.

More

Ons wil graag dankie sê vir Baker Uitgewers wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek: https://bakerbookhouse.com/