Kom Sit By MyVoorbeeld
Nêrens in Kolossense 3 waar Paulus opdrag gee dat ons mekaar moet liefhê, het hy ooit gesê dat ons van die mense wat van ons verskil, ons moet vervreem nie. Hy sê ook nie ons moet sulke mense vermy of ons onttrek na eggolokale waarin ons slegs die weerklanke van ons eie standpunte en menings kan hoor nie. Hy vra ons nie om ons vriende te blokkeer of te ontvriend nie; of hulle weg te wys of te ignoreer nie. Inteendeel, hy dring by ons aan om mekaar te vergewe, om meelewend te wees, geduld te beoefen en "mekaar te verdra". In die oorspronklike Grieks, beteken hierdie kort frase nie bloot om iemand te verduur of te duld nie. Dit beteken om waarlik verdraagsaam te wees, geduld te beoefen en — luister hierna — om te ly.
Dit kan soos lyding voel om mekaar te verdra, nie waar nie? Tog is dit juis die weg van Christus. Ons word geroep om so naby aan mense te wees dat hulle maklik in staat is om ons seer te maak. Dit is presies wat Jesus gedoen het. Hy het sy verraaier so naby aan Hom gehou dat Hy hom 'n stukkie brood kon aangee.
Die risiko wat ons loop as ons nie 'n weg vind om vorentoe te beweeg nie is: ons sal uiteindelik elkeen by 'n tafel vir een sit.
As ons verplig is om met elkeen in ons kerk, oor elke onderwerp saam te stem, sal ons uiteindelik in 'n kerk vir een sit.
As ons met die bure oor elke saak moet saamstem, sal ons uiteindelik in 'n woonbuurt vir een lewe. 'n Boekklub vir een. 'n Bybelstudiegroep vir een. 'n Sitkamer vir een. 'n Gesin vir een.
Ons sal mettertyd almal met Kersfees en selfs by die nagmaaltafel waar Jesus ons uitnooi "Neem, eet", alleen sit. 'n Tafel vir een.
Ek weet hoe ongemaklik dit is. Met elke verkiesingsiklus, elke nuusberig en elke politieke geleentheid bestaan daar die moontlikheid dat die vonke in my huis kan spat — nie die oulike partytjie liggies nie, maar die plofbare, hou-jou-ore-toe-en-hardloop soort.
Toe ek en Scott getrou het, was ons ten volle daarvan bewus dat ons nie altyd saamgestem het nie. Ons het nietemin getrou. Die rede? Omdat ons "mekaar" liewer gehad het as wat ons die verskille gehaat het.
Dit is daardie oortuiging wat ons, vyf en twintig jaar later na hierdie tafel laat terugkeer. Dit kan dalk vandag vir ons 'n beginpunt wees: Ons kan "mekaar" liewer hê as wat ons die verskille haat.
Ek begryp hoe moeilik dit kan wees, maar stilstuipe werk nie (ook nie om op Facebook te skree nie). Ek ken mense wat die afgelope jaar glad nie met mekaar gepraat het nie as gevolg van verskille oor onlangse gebeure. Hierdie vriende het voorheen by dieselfde tafel gesit, saam vakansie gehou, saam aanbid. Soos die dae maande word en die maande jare word, raak daardie skeuring al wyer, tensy die saak hanteer word.
Dalk moet ons iets anders probeer.
In plaas daarvan om daardie kamermaat van jou universiteitsdae wat so tekere kan gaan, te ontvriend, kan jy eerder die "hou van" op Facebook gebruik om haar te laat weet jy wens haar kind geluk wat op die foto met sy nuwe bestuurslisensie pronk.
Eerder as om met jou pa te stry vir wie gestem moet word, kan jy luister wanneer hy vertel waaraan hy gedink het. (Ons kan luister sonder om saam te stem en nog steeds die Sondagmaal geniet!)
Dit beteken nie dat die plofbare onderwerpe nie belangrik is nie. Hulle is, maar as ons toelaat dat verdeeldheid tot 'n alles-of-niks mentaliteit lei, dan verloor almal. In plaas daarvan om op al ons verskille te fokus, moet ons eerder areas soek waarmee ons verbintenisse kan skep. Ons stem dalk nie saam hoe die bure hul kinders grootmaak nie, maar as ons hulle beter leer ken ontdek ons dalk 'n gesamentlike voorliefde vir historiese fiksie en melktert.
Ek verstaan dat melktert nie die wêreld gaan red nie, maar soos die ou gesegde lui: "Laat daar vrede op aarde wees — en laat dit by my begin."
Ook met jou. Sommer hier aan ons tafel vir twee.
— deur Jennifer Dukes Lee
Aangaande hierdie leesplan
Menswees is moeilik. Om met ander mense in verhoudings te wees is selfs nóg moeiliker. Of jy jou weg deur politieke of godsdienstige verskille voel, met giftige mense te doen het of met jou eie onvergewensgesindheid, is die vraag hoe ons hierdie stryde moet hanteer waaroor niemand wil praat nie? Hierdie leesplan sal jou wys hoe jy nader aan God en ander kan groei deur die omstandighede waarvan jy liewer wil weghardloop. Ontdek die hoop en vryheid wat na vore kom wanneer jy leer om jou te verlustig in jou verskille, liefde te midde van onenigheid en om selfs met ongemak te kan leef.
More