Die Wonder Van KersfeesVoorbeeld

The Magic Of Christmas

DAG 22 VAN 25

"Wandel met Selfvertroue"

Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (Lukas 1:38).

Het jy al ooit gedink hoe dit moes voel om die maagd Maria te wees? Om jou eie planne geheel en al oor te gee en die toekoms met selfvertroue binne te gaan terwyl jy God se plan ten volle vertrou?

Maria het baie opgeoffer om God te dien. Voor die engel se besoek, was haar drome, toekomsverwagtinge en planne vir haar kind, waarskynlik baie anders as God se uiteindelike plan. In daardie oomblik het sy geen benul gehad wat die toekoms vir haar inhou nie, maar sy het God vertrou en haarself in nederigheid aan sy wil onderwerp; nie uit vrees nie, maar uit aanbidding. Sy het God vertrou, al was die toekoms vaag en 'n bietjie vreesaanjaend. In plaas daarvan om onder die druk van en vrees vir 'n onsekere toekoms te swig, het sy in vertroue voortgegaan. Sy het vertrou en was dapper, ongeag haar omstandighede. Sy het besef dat haar lewe aan God behoort en dat God by haar was.

Ek wens ek was meer soos Maria. Sy het God met haar kosbaarste lewensareas vertrou. Sy het nie met God probeer onderhandel of meer inligting van Hom geëis nie. Sy het nie eens die voor- en nadele opgeweeg nie. Sy het Hom sonder weifeling gevolg.

Ek sou ook graag my lewe op hierdie wyse wou oorgee, maar ek is geneig om in beheer te wil wees. Hoekom is ons geneig om God te wantrou op die gebiede wat die meeste saakmaak? Is dit omdat ons God se goedheid wantrou? Of is dit omdat ons in onsekere tye Hom doodeenvoudig nie vertrou nie?

Waarom klou ons so vas aan beheer in plaas daarvan om ten volle oor te gee? Ek wil n tydstip bereik waar ek sonder twyfel kan sê: "Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied ..." (Matteus 6:10).

Ons soek almal vrede. Wanneer die lewe onseker is, wil ons iets hê wat sekerheid gee; iets wat ons vastigheid sal gee en veilig laat voel. Christus gee daardie hoop in tye van onsekerheid; die krag om moedig en met selfvertroue — net soos Maria — die toekoms in te gaan omdat God by ons is.

"Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem" (Die naam beteken God by ons.) (Matteus 1:23).

Leah Selby
Care Network
Dag 21Dag 23

Aangaande hierdie leesplan

The Magic Of Christmas

Vir sommige mense is Kersfees 'n tyd van vreugde en feesviering. Vir ander is dit 'n pynlike herinnering van verlies aan iets of iemand. Kersfees is 'n geleentheid om op die bron van ons hoop te fokus, ongeag van dit wat ons tydens die Kersgety ervaar. Ons nooi jou om die volgende 25 dae saam met die personeel van North Point die wonder van Kersfees te ervaar. Deel in die gesprek by #NPDevo.

More

Baie dankie aan die personeel van North Point Gemeenskapskerk en North Point Ministries, Inc vir die voorsiening van hierdie inhoud en leesplan. Besoek northpoint.org vir nog inligting