Kies God, Nie Die Wêreld NieVoorbeeld

Kies God, Nie Die Wêreld Nie

DAG 41 VAN 43

Lees: Genesis 49:29—50:26; Eksodus 13:19; Johannes 14:1–3

SOAP: Johannes 14:1–3

“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God: glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Oordenking

Die laaste hoofstuk van Genesis bring die gebeure van beide Jakob en Josef se lewens tot ‘n einde. Albei mans het in hul laaste dae groot geloof in God se beloftes getoon. Hulle het geweet Egipte is nie hulle tuiste nie. God het belowe om vir hulle ‘n land van hul eie te gee en dit was nie Egipte nie. Alhoewel nie Jakob of Josef gesien het hoe God daardie belofte vervul het nie, het hulle albei in geloof opgetree deur hulle seuns opdrag te gee om hulle gebeendere na die beloofde land terug te bring.

Jakob en Josef het in afwagting geleef van die langverwagte seën van God. Hulle was oortuig dat God sy volk na die land sou bring wat Hy beloof het om aan hulle te gee. Na sy dood het Jakob se seuns en sy hele huisgesin sy liggaam na die begraafplaas gedra wat Abraham van 'n Hetiet gekoop het. Jakob is saam met sy vaders begrawe en het rus gevind in die beloofde land. 'n Soortgelyke optog het jare later plaasgevind toe Moses die gebeendere van Josef uit Egipte gebring het en die Israeliete van slawerny bevry is. Albei mans het hul geloof in God se belofte geopenbaar al het hulle nie die belofte voltooid gesien nie.

Gelowiges in Christus wag vandag ook op die vervulling van ‘n groot belofte. Jesus het belowe om terug te keer en aan al sy volgelinge ‘n laaste rusplek by Hom te gee. Hy het vir almal wat in Hom glo en Hom as hulle Here en Verlosser aangeneem het, ‘n plek voorberei. Vandag, as gelowiges in Christus, verlang ons na die vervulling van daardie belofte.

Die dood van ‘n gelowige in Christus is nie die einde nie. Dit is eerder die begin van die volle verwesenliking van al die wonderlike beloftes van God. Jakob en Josef het gesterf in die geloof dat God sy belofte sou nakom en hulle nageslag na die beloofde land sou bring. Net so, wanneer gelowiges in Christus sterf, doen hulle dit in geloof dat God sy belofte sal vervul en hulle saamneem na die plek wat Hy beloof het, die plek wat Hy vir hulle voorberei het. Wanneer ons lewe en sterf op grond van God se beloftes, verloor die dood sy krag, want niks kan ons daarvan weerhou om die beloftes van God te erf nie, selfs nie die dood nie.

Dag 40Dag 42

Aangaande hierdie leesplan

Kies God, Nie Die Wêreld Nie

"Kies God, Nie Die Wêreld Nie" bestudeer die lewens van twee mans, Jakob en Josef, hul gesinne en die keuses waarvoor hulle te staan gekom het. Jakob en Josef het albei ‘n spesifieke belofte van God ontvang, maar hulle het hul geloof baie anders uitgeleef. In hierdie Bybelstudie gaan ons ook ontdek hoe God se beloftes aan sy mense nooit onvervuld bly nie, selfs al verbrou hulle dikwels.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/